Drama.

Met Asa Butterfield, Chloë Grace Moretz en Christopher Lee.

Regisseur: Martin Scorsese.

OT.

Begin op 10 Februarie.

Die lewe van ’n weeskind wat in ’n stasie bly verander toe ’n oubaas ’n kosbare notaboek by hom afneem.

Dié fliek is nommerpas vir bewonderaars van rolprente wat dink bewegende prentjies wat op die silwerdoek verewig is, is die grootste uitvindsel in menseheugenis.

Komende van die grootse Martin Scorsese bring dié kunswerk hulde aan die krag en betowering van rolprente. Dis die mooiste en aangrypendste saluut aan dié kunsvorm wat nog uit die droomfabriek gekom het. G’n wonder dis vir 11 Oscars benoem nie.

Dit wys ’n mens moet nooit die kind in jou verloor nie, maar waarsku ook gesinsbande moet nooit gebreek word nie en dat ouers hul kinders nooit mag verwaarloos nie.

Dit bevestig dat die geloof in drome die mensdom aan die gang hou.

Die sjarme van 3D is nog nooit só kundig gebruik nie. Scorsese wend driedimensionele beelde met sy volle krag en effek aan met ’n kamera wat droomverlore tussen beelde rondswiep, tuimel en soek en van elke ontdekkingstog ’n kragtoer maak.

Dié meesterstuk raak aan jou siel. Dit kan een van die beste rolprente oor die film as beheerste droom wees wat nog gemaak is. Gaan maak kennis met Hugo. Hy kan jou lewe verander.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Gebruik jou 3D-bril vir hierdie lokprent!