Drama.

Met Saoirse Ronan, Eric Bana en Cate Blanchett.

Regisseur: Joe Wright.

13G.

Begin 27 Mei.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

’n Wilde, woeste meisiekind word groot in ’n afgeleë huisie in Finland waar haar pa haar oplei om die wêreld se beste sluipskutter te word.

Wie sal hiervan hou?

Dis ’n tameletjie dié. Dit is nie noodwendig ’n fliek vir aksieverslaafdes of ouens wie se testosteroon ontplof het met Fast Five nie.

Die rolprent is gemaak deur Joe Wright, die meesterlike regisseur wat vir Atonement, ook metSaoirse Ronan, gesorg het.

Dit is moontlik een van die eerste kuns-aksiefilms dié, want Wright pronk soos ’n pou met feitlik elke toneel.

Daar is byvoorbeeld lang, ononderbroke skote sonder enige redigering, vreemde kamerahoeke, redigering vinniger as

’n taxi wat in die noodbaan by jou verbyjaag en ander rondomtalietegnieke wat soms die aandag ’n bietjie van die storie en spanning aftrek.

Dus is die regie baie selfbewus, maar steeds goed en anders as 95 persent van die ander aksieprente wat jy ken.

Vir een keer in haar lewe is ’n mens bewus van toneelspel by Cate Blanchett, wie se Amerikaanse aksent aangeplak is, maar Saoirse bewys dat sy, nes Mia Wasikowska, die wêreld se volgende Meryl Streep is.

’n Eksperimentele rolprent wat sommige mense koud sal laat, maar vir ander soos warm sjokolade in die winter sal proe.

Soortgelyke flieks

The Parallax View, Atonement.

Springmielie-feite

*’n Mense spreek Saoirse se naam “sur-shuh” uit. Dit beteken “vryheid” in Iers en haar van, algemeen in Ierland, beteken “klein rob”.

*Al is sy in New York gebore, het sy in Ierland grootgeword en woon steeds daar.

*Sy was op 13 een van die jongste aktrises nog wat vir ’n Oscar (as beste byspeler in 2007 se Atonement) benoem is. *Sy het gevra dat Joe Wright die regie vir Hanna doen.