Romantiese komedie.

Met Justin Timberlake, Mila Kunis en Woody Harrelson.

Regisseur: Will Gluck.

16TS.

Begin op 16 September.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

Twee beeldskone losbolle besluit dat ’n verhouding net op seks gebou kan word sonder emosionele betrokkenheid. Dit veroorsaak groot verwarring.

Wie sal hiervan hou?

Almal wat verlief, verloof of beskikbaar is. Lesers wat dadels voel vir romantiese komedies omdat dit so cliché-belaai is, kan hul hande diep in hul sakke steek vir hierdie moewiese lekker romantiese paartie!

Dit skroef met jou kop en maak jou sommer ook lus om verlief te raak.

Dit bewys dat verhoudings nie net op seks gebou kan word nie, want dan verander dit in ’n leë plesierigheid. Liefde en seks moet op dieselfde bladsy en in dieselfde bed wees, anders kan jy dit net sowel los.

Voeg by hierdie suksesresep die pragtige Mila Kunis wat, ná Black Swan, kans kry om haar komiediespiere ’n bietjie te oefen, en Justin Timberlake wat enigiets kan verlei wat ’n skaduwee gooi, en die vonke spat soos vuurwerk op Oujaarsaand.

Jy sal van die kwinkslae aan jou pelle SMS en lekker lag oor die snaakse hoogtepunte as julle ná die tyd warm sjokolade by ’n restaurant gaan drink.

Die karakters het warmte met blinkgepoetste persoonlikhede, die draaiboek het woema en sjarme, en die regisseur, wat tevore die suksesvolle Easy A gemaak het, het ’n jong, byderwetse styl.

Eksplisiete sekstonele is verantwoordelik vir die 16-beperking.

Soortgelyke flieks

Easy A, Forgetting Sarah Marshall.

Springmieliefeite

*Emma Stone, wat ook in Will Gluck se Easy A was, maak ’n kameeverskyning.

*Mila Kunis is in Tsjernifski in die Oekraïne gebore en haar ouers is Russies. Haar regte naam is Milena.

*Justin Timberlake het as tiener in The All New Mickey Mouse Club op TV opgetree teenoor ander beginners soos Britney Spears en Ryan Gosling.

Volg Huisgenoot op Twitter.