Tienerromanse.

Met Kenny Wormald, Julianne Hough en Dennis Quaid.

Regie: Craig Brewer.

13TG.

Begin op 6 Januarie 2012

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Wilde straatlaaitie kom op ’n verkrampte dorp aan waar dans verbode is. Hy verontagsaam die wet en hits die jonges aan om litte los te maak. Dan raak hy op die predikant se dogter verlief . . .

Wie sal hiervan hou?

Enigeen wat ’n aks ritme het. Boeta! is dit ’n lewendige, testosteroon-belaaide pretparkrit dié. Op vermaaklikheidsvlak moet dit eintlik vier sterre kry. Die danstonele is elektries en laat jou dansspiere tintel en witwarm woel met ’n jong jeukerigheid wat jou stuiptrekkings van lekkerkry sal gee.

En is die rolprent sexy! Kenny Wormald steek die silwerdoek aan die brand met sy sidderende, sexy danspassies en flinke voete, terwyl die sexy Julianne Hough die ene smeulende sensualiteit uitstraal in haar karige uitrustings.

’n Mens wonder net of haar kwaai predikantpa haar sou toegelaat het om sulke eina broekies te dra.

Al is die storie ongeloofwaardig en onoortuigend, is dit die kookwaterwarm danstonele, die begeertes wat so tussen die sweterige lywe borrel en brand en die vermetele jeugdige verwaandheid en voeteterg-ritmes wat die rolprent laat ruk.

Of jy 13 of 80 is, hierdie gooi-die-waenhuisdeur-oop-dansprent sal jou nuwe jaar snikheet laat begin. Die spontane toneel waar Kenny Wormald sy frustrasie uitrinkink en sy beste pel leer dans, is dinamies en kragtig.

Die skool is mos nog lank toe! Dans deurnag met hierdie komkommerkoel jeugfliek wat jou sal laat kook. Dit bruis met die energie van ’n liter vonkelwyn!

Soortgelyke flieks

Grease, Saturday Night Fever, Glee.

Springmieliefeite

*Kenny Wormald het feitlik al sy eie danstonele self gedoen, anders as Kevin Bacon in die oorspronklike rolprent van 1984.

*Hy het op ses jaar begin danslesse neem en het verskeie danswedstryde gewen.

*Hy het ook saam met Justin Timberlake in sy musiekvideo’s opgetree.

*Kenny is ook ’n beroepschoreograaf

Volg Huisgenoot op Twitter.