Jeugfilm. Met Hlayani Junior Mabasa en Janet Suzman. Regisseur: Roberta Durrant. A. Begin op 13 September. Ons dink 3/5

’n Seun wat van die verkeerde kant van die spoorlyn af kom, beland in ’n Engelse eliteskool. Hy wil graag ’n meester van die saksofoon word, nes sy oorlede pa. Maar sy ma hou nie baie van die idee nie. Die onskuldige outjie het darem sy penniefluitjie, maar dis ’n skrale troos! Toe ontdek hy hoekom sy ma teen die saksofoon gekant is. Praat van ’n koel, borrelende kinderrolprent! Deesdae is daar maar min regisseurs wat dit waag om ’n storie te vertel waarmee alle pikkies uit verskillende kultuurgroepe kan identifiseer, en hierdie een val in daardie kategorie. Moenie gewaagde grappe soos by Spud verwag nie; Felix se humor is skoon, gevat en veilig, maar voorspelbaar. Dit herinner nogal ’n bietjie aan die atmosfeer van e’Lollipop waaroor ouers so dikwels praat. En dit bekyk skool toe gaan en grootword saam met ander kultuurgroepe sonder lastige politiekery of ’n gepreek uit die hoogte uit. Die kattekwaad wat die outjies aanvang, is ’n slag skadeloos! Heerlik.

- Leon van Nierop