Gruwel. Met Jane Levy, Shiloh Fernandez, Jessica Lucas en Lou Taylor Pucci. Regisseur: Fede Alvarez. 18GrTG. Begin op 16 Augustus. Ons dink 3/5

Dink aan die ergste geweld wat jy nog gesien het, voeg daarby rillers se grusaamste skokoomblikke en dink aan die laaste keer dat jou bloed gestol het. Vermenigvuldig dit met 10 en jy het ’n idee van watter invloed Evil Dead dalk op jou gaan hê. In dié fliek, wat gegrond is op Sam Raimi se baanbrekerrillers van die vroeë 80’s, kom ’n groep jong mense in ’n houthuis in die bos af op Die Boek van die dooies. Hierdie boek, met menslike vel as omslag, bevat voorspellings en woorde wat die bose geeste oproep en loslaat. Die ouens en meisies wat in hierdie huis kom bly, ignoreer alle riller-reëls. Moenie ’n boek oopmaak waarin daar staan dat jy nie die boek mag lees nie. Moenie in ’n kelder afgaan en rondploeter tussen dooie diere wat uit die dak hang nie. En moet nooit, nooit, agteruit by ’n kamer inloop nie. Gewoonlik het gruwelflieks ’n makabere, swart humorsin, soos in Raimi se oorspronklike The Evil Dead (1981), maar hierdie gewelddadige en brutaal grusame grilfliek het nie tyd daarvoor nie. Mense wat hul eie hande afkap, skreeuend aan die brand gesteek word en herhaaldelik met spykers deurboor word, is hier aan die orde van die dag. Dit is gruwelik. Jy is gewaarsku.

– LEON VAN NIEROP