Wetenskapsfiksie/Wilde Weste. 

Met Harrison Ford, Daniel Craig en Paul Dano. 

Regisseur: Jon Favreau.

13MV.

Begin op 19 Augustus.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Ruimtetuig land in 1873 in Arizona en jaag die cowboys en ander paloekas van die Wilde Weste op hol.

Wie sal hiervan hou?

Wetenskapsfiksie-blinkgesiggies en rowwe cowboymanne. Dis ’n fliek dié vir ouens en hul hand-om-die-blaas-pelle, want dit stoot macho rondpronkery en rowwe manewales na ’n nuwe vlak.

Dis een van die eerste rolprente wat dit waag om twee uiteenlopende genres te kombineer, maar dit bevredig nie noodwendig albei kampe nie. Dit laat veral Wilde Weste-aanhangers verstik in die stof.

Daniel Craig is super-effektief as die eensame Clint Eastwood-figuur, en met sy hardebaard-charisma en gesag troef hy selfs Harrison Ford, wat net een soortgelyke vertolking te veel lewer.

Maar dis die monsters wat nes die slymtentakels uit Alien lyk wat die rolprent kaap. Omdat daar sewe skrywers was, raak die storie te ingewikkeld en stylloos; hy val dikwels dawerend van sy perd af en verstik in die stof.

’n Eenvoudiger, enkellyniger botsing tussen tradisionele Wilde Weste-goed (met stoppels en ’n sigaar) en supersoniese kwaad (met seepgladde ruimtetuie) sou ’n lekker skop-skiet-en-doodbloei-impak gehad het.

Jy moet jou rollie in die oorgehaalde posisie hou en jou breinselle vol Red Bull laai om heeltemal sin uit die fliek te maak.

Dis lekker woes en wild, maar Olivia Wilde pas nie in die fliek nie en die kinkels in die tentakelkabels sou die legendariese Wilde Weste-regisseur John Ford in sy graf laat omdraai het.

Koel envermaaklik, maar nie heeltemal bevredigend nie.

Soortgelyke flieks

Alien, Wild Wild West en Men in Black.

Springmieliefeite

*Eva Green van Casino Royale is genader om Ella te speel, maar sy het nee gesê.

*Jon Favreau het geweier om die fliek in 3D te skiet. “Wilde Weste-prente word op film geskiet!” was sy reaksie .

*Daniel Craig is gekies omdat hy glo baie soos Yul Brynner lyk, want die 1960-skietskopprent The Magnificent Seven was ’n inspirasie vir Cowboys and Aliens.

Volg Huisgenoot op Twitter.