Drama.

Met Gwyneth Paltrow, Garrett Hedlund en Tim McGraw.

Regisseur: Shana Feste.

13M.

Begin 22 April.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Viriele jong countrysanger raak verlief op ’n uitgewaste countrysangeres. Al probleem is haar man, wat ook haar bestuurder is, is in die pad . . .

Wie sal hiervan hou?

Meer mense as blote langarm- of sokkieslawe wie se idee van ’n lekker naweek ’n jol in ’n waenhuis is! Hierdie rolprent is dieper as ’n blote aaneenskakeling van countrytreffers.

Dit verduidelik wat mense na die kultuur toe aantrek, maar kyk ook wat agter die skerms gebeur. Die trane, slaggate van roem, verleidings van kortstondige verhoudings en dwelms word almal aangeraak sonder om dit te vervlak of sensasie te soek.

Maar die hooftema is musiek.

Die karakters openbaar presies wie hulle is wanneer hulle musiek maak, maar openbaar ook noukeurig hoe die musiek sy tol eis indien ’n mens se persoonlikheid nie sterk genoeg is om al die druk agter die skerms te weerstaan nie.

Garrett Hedlund is eintlik die ster van die produksie met sy sjarmante en innemende spel as Beau wat sy hart op die sangeres verloor. En Gwyneth Paltrow bewys hoekom sy ’n reputasie het as ’n deurwinterde aktrise wat enige rol kan speel (of sing).

Al kielie countrymusiek nie jou koerasie of tone nie, sal die liefdesverhale en sjarmante hoofsterre ’n tier in jou tenk sit.

Soortgelyke flieks

Walk the Line, Nashville.

Springmieliefeite

*Garrett Hedlund het ’n maand lank in ’n huis van Tim McGraw gebly om countrymusiek behoorlik te verstaan en ordentlik te leer kitaar speel.

*Garrett het al baie rolle verloor omdat hy “te mooi” daarvoor is; daarom het hy homself vervies en al sy hare afgeskeer as die psigopaat in Death Sentence.

*Sy ouers het geskei toe hy nog baie klein was. Hy is van Sweedse afkoms.