Romantiese komedie.

Met Uma Thurman, Michael Angarano en Reece Thompson.

Regisseur: Max Winkler.

13TD.

Begin op 21 Oktober.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Neurotiese paloeka vry weer na die meisie van sy drome op haar eie bruilof! Sal hy haar terugwen?

Wie sal hiervan hou?

Enigiemand wat al die regte meisie (of ou) laat wegkom het, net om ná die tyd lang trane te huil.

Dit lyk aanvanklik of hierdie romantiese komedie op dieselfde treinspoor wankel as so baie ander treinongelukke, maar dit is ’n welkome uitsondering.

Die hoofkarakter (Michael Angarano) het so ’n koelkop-slenterstappie wat van hom enige skoonma se aanvallige droom maak. Hy is gemaklik in sy eie vel en is eintlik ’n jong Woody Allen met ’n sespak en koeler kuiltjies.

Die romantiese misverstande het ’n snapsie meer oorspronklikheid en oortuigingswaarde as soortgelyke romantiese komedies.

Om die waarheid te sê, dit smokkel nie net met jonges se idee van wat ware liefde is nie, maar sommer met hul hormone ook. (Uma Thurman is darem supersexy en dan kan sy nog toneelspeel ook!)

Die fliek is net reg vir ’n eerste date of iets waarmee jou hele kaboedel pelle kan laaglê oor ’n naweek wanneer julle van die swottings wil wegkom.

Lomp, sjarmante buksies wat al die regte geluide op die verkeerde plekke maak, word selde met soveel deernis uitgebeeld as hier met so ’n byderwetse wip in sy kuif.

Dit tert die Romeo en Juliet-storie op en sit ’n nuwe tier in sy tenk. Dis R45 werd.

Soortgelyke flieks

Nick and Nora’s Infinite Playlist; Crazy, Stupid, Love.

Springmieliefeite

*Michael Angarano het die hoofrol gekry nadat Jesse Eisenberg kop uitgetrek het. Toe het Reece Thompson Michael se oorspronklike rol gekry.

*Michael het baie amper die rol van Anakin Skywalker in Star Wars Episode 1: The Phantom Menace (1999) gekry.

*Hy was jare lank in ’n verhouding met Twilight se Kristen Stewart.

Volg Huisgenoot op Twitter.