Biografie. Met Michael Douglas, Matt Damon en Scott Bakula. Regisseur: Steven Soderbergh. 16STD. Begin op 27 September.

Hierdie resensie is uitsluitlik op Liberace se aanhangers gerig of ouer lesers wat die sjarmante pierewaaier met die flambojante kostuums en uitspattige juweliersware nog onthou. Gedurende die 50’s en 60’s het baie vroue geweier om te aanvaar dat hierdie geniale pianis gay is. Sy minnaar, Scott Thorson (Matt Damon), was sommer net “ ’n vriend”, en, nes deesdae, het die Hollywood-masjien die waarheid gelieg en vir die geldmaakmasjien meisies geskep wat aan sy beringde hande in die openbaar rondgewals het. Die rolprent is darem nie venynig nie. Dit vertel met soberheid vir die eerste keer wat agter die deur van Liberace se paleis gebeur het, hoe hy sy minnaar skynbaar emosioneel mishandel het en toe uit die huis gegooi het toe hy ’n jonger, aantrekliker minnaar op die lyf loop. Uit dié opsomming kan jy aflei of dit jou soort rolprent is. Net sekere gedeeltes van Liberace se lewe word belig. Die klem val steeds op sy briljante klavierspel, maar terselfdertyd op sy dubbele lewe en die rat wat hy mense voor die oë gedraai het. As jy twee goeie vertolkings wil sien, veral van Matt Damon, gaan kyk. Of kies liewer Red Tails of Runner Runner, wat albei ook op 27 September begin. Ons dink 3/5.

- Leon van Nierop