Komedie.

Met Cameron Diaz, Jason Segal en Justin Timberlake.

Regisseur: Jake Kasdan.

16DNTS.

Begin op 2 September.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit? 

’n Loskopdolla sluit as onderwyser by ’n skool aan en haal haar frustrasies op die kinders en onderwysers uit.

Wie sal hiervan hou?

Lesers wat van sexy, stoute flieks hou. Hierdie ondeunde onderwyseres is elke skoolseun se droom, maar sy verander die lewens van die onderwysers in ’n mynveld van frustrasie.

’n Mens lag dikwels kliphard uit jou maag, net om jou hand oor jou mond te klap en onderlangs te fluister: “Sies!”

Die fliek is onbeskaamd guitig, onder die belt en roekeloos. Dit draai skoolflieks op sy kop en kielie dit lekker onder sy vet magie.

Cameron Diaz is eintlik verantwoordelik vir die rolprent se sensuele sukses. Net om haar in verskeie eina monderings te sien sal baie ouens twee keer laat gaan kyk.

En die toneel tussen haar en ’n maagdelike (!) Justin Timberlake sidder van ironie en onderdrukte seksualiteit.

Kasdan ontgin die rowwe elemente in hierdie veelbesproke komedie dikwels op ’n innemende en skreeusnaakse manier.

Hy grinnik in sy mou vir ’n stout koekie wat nie ’n duiwel omgee wat ander mense van haar dink nie en vir ’n skool leer dat daar meer agter wiskundige formules lê as Pitagoras se stellings!

Tergerig, traak-my-nieagtig en kougom vir die brein. Maar boeta, is daar lekkergoed vir die oë! Gaan kyk as jy ’n sexy moewie wil sien.

Soortgelyke flieks

Bad Santa, Teaching Mrs. Tingle.

Springmieliefeite

*Justin Timberlake en Cameron Diaz was op ’n kol in ’n verhouding, wat hul poging-tot-verleiding-toneel nog snaakser maak.

*Bradley Cooper is in ’n stadium oorweeg as een van die onderwysers.

*Timberlake het sy televisiedebuut op 11-jarige ouderdom gemaak en toe bekendheid verwerf in The Mickey Mouse Club.

Volg Huisgenoot op Twitter.