Ware lewensdrama.

Met Ryan Gosling, Kirsten Dunst en Frank Langella.

Regisseur: Andrew Jarecki.

16DTNG.

Begin op 24 Junie.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit? 

Hierdie drama is gegrond op die ware verhaal van ’n New Yorkse sakeman, David Marks, wie se vrou, Katie, verdwyn het. Was dit moord?

Wie sal hiervan hou? 

Hoewel hierdie teisterende en intelligente misdaaddrama nie ’n dokumentêr is nie, behoort lesers wat na die CI-misdaadkanaal op DStv kyk dol te wees hieroor.

Andrew Jarecki, wat die hoogs omstrede dokkie Capturing the Friedmans gemaak het, delf hier tot in die derms van sy karakters, wat uitmuntend vertolk word deur veral Ryan Gosling. Die akteur wag nog net vir sy Oscar!

Met ’n pynlike, nougesette deeglikheid ontleed Jarecki die feite, veral die nuwes wat onlangs opgeduik het, en kom tot ’n skokgevolgtrekking wat die kyker sal ruk.

Sy styl is sonder enige foefies of storietruuks. Hy konfronteer jou net met die koue, naakte feite en ontleed David Marks se koel, onemosionele en apatiese optrede met koelbloedige presiesheid.

Die rolprent veroorsaak ’n beklemming om jou hart wanneer jy saam met die karakters deur hierdie knap gestruktureerde drama reis op pad na die waarheid.

Die vraag is net: Het Jarecki op die waarheid afgekom of is daar ’n ander oplossing?

Intens, tersaaklik en absoluut beheers. Vir mense wat versot is op ware misdaaddramas wat nooit opgelos is nie.

Soortgelyke flieks 

The Parallax View, Capturing the Friedmans.

Springmieliefeite

*Kirsten Dunst ly aan ernstige depressie en het net voor die rolprent behandeling daarvoor ontvang.

*Ryan Gosling is eintlik ’n Kanadees. Hy is so erg op skool deur boelies geteister dat sy ma hom uit die skool geneem en tuisonderrig gegee het.

*Die David Marks-saak word beskou as die mees makabere en die berugste onopgeloste saak in New York se misdaadgeskiedenis.