Romanse. Met Rachel McAdams, Domhnall Gleeson en Bill Nighy. Regisseur: Richard Curtis. 13T. Begin op 25 Oktober.

Elke resensent het sy eie bloosplesiertjie, en hierdie een is myne. Dit kom uit die stal van Richard Curtis, wat ook vir Four Weddings and a Funeral en Notting Hill se draaiboek gesorg het. Dié slag reis sy karakters terug in die verlede en gee hy sy wonderlike bleeksielheld (die natuurlike Domhnall Gleeson) kans om sy liefdesfoute te herstel. Hierdie romantiese siel vind by sy pa uit dat hy kan terugreis in tyd, ’n glips kan uitwis en daardie spesifieke situasies kan herleef. Sal hy op dié manier die meisie van sy drome kry? (Sy word gespeel deur Rachel McAdams, wat dié soort rol al in haar slaap kan vertolk.) Wat hier tref, is die onbeskaamde maar gesofistikeerde sentiment en emosie wat Curtis vreesloos gebruik. Hy het nie ’n saak met suur kritici wat snater oor onwaarskynlikhede of tranerigheid nie. Nes in Love Actually maak hy die gehoor emosioneel en romanties betrokke by sy charismatiese karakters met die boodskap: Die liefde is sterker as enigiets anders; sorg dat jy die dobbelstene gryp as hulle op die regte plekke vir jou val. Die rolprent is vermaaklik en pittig, en bevat een van die menslikste, doodnormaalste en ongeaffekteerdste helde nog. Romanse was laas in The Notebook so vrymoedig innemend. Gaan kyk dit tot elke prys!

- Leon van Nierop