Ons dink: 2/5

Ware lewensdrama.

Met Wandile Molebatsi en Jason Hartman.

Regisseur: Peter Bishai.

16OG.

Begin op 27 April.

E’Lollipop het die land destyds stormerhand verower. Dit was ’n bloudruk vir hoe die “nuwe Suid-Afrika” sou funksioneer.

Die vriendskap tussen ’n swart en ’n wit seuntjie het almal aangegryp. Maar die Soweto-opstande in 1976 en militêre diensplig het ’n gewelddadige wig tussen die twee vriende ingedruk en hul vriendskap vernietig.

Dié rolprent loop die veelbewoë pad terug tot by hul herontmoeting. Dit is ’n harde en taai sit. Dis aandoenlik om ’n getuie te wees van die politieke vooroordeel en rassisme wat dié mooi vriendskap gekniehalter het.

Maar andersins krap-krap die rolprent. Nie dat die gebeure bevraagteken word nie. Maar die vertelstyl lyk soms na ’n sepie.

Die oplossings word te maklik uitgebeeld asof die werklike wroeging versag is om die rolprent kykersvriendelik te maak. Dus “glo” ’n mens die rolprent nie en kruip dit nie onder jou vel in nie.

Wandile Molebatsi se spel is sterk, maar Jason Hartman (die Idols-medewenner in 2009) is te lig in die broek vir die ingewikkelde rol van die wit man wat byna deur die weermag gebreek is.

Veral die weermagtonele lyk oneg. Die rolprent moet wel ondersteun en gesien word, want dit verrig goeie werk en lei tot versoening. Maar iets skort.

Volg Huisgenoot op Twitter.