Ware lewensverhaal.

Met Joseph Gordon-Levitt, Seth Rogen en Anna Kendrick.

Regisseur: Jonathan Levine.

16G.

Begin op 5 November.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

Dis die ware verhaal van ’n jong skrywer wat ontdek hy het ’n rare vorm van rugmurgkanker. Hy probeer met sy verwoeste lewe voortgaan.

Wie sal hiervan hou?  

Moenie dink hierdie drama is ’n gemaklike Sondagskoolpiekniek nie.

Omdat dit gegrond is op die waarheid, is daar nie romantiese of komiese foefies nie. Die storie word vertel soos wat dit gebeur het.

Die sterk punt is die donker galgehumor wat ’n mens soms onverhoeds betrap en selfs laat steier onder die onverwagte gewig!

Joseph Gordon-Levitt bewys weer dat hy een van Hollywood se blinkste talente is, want sy dapper vertolking en eerlikheid maak van hierdie karakter ’n onvergeetlike oorwinnaar wat, ten spyte van die oorweldigende aanslae teen hom, daarin slaag om nugter te bly.

Hy word briljant ondersteun deur Seth Rogen, wat sy gewone onderspeelde droëbek-bleeksiel-interpretasie gee, maar met selfs meer hart as sy vorige vertolkings.

En Anna Kendrick, wat reeds met ’n Oscar-benoeming vir Up in the Air spog, gee seker een van die interessantste en nugterste vertolkings van die held se romantiese afleiding nog.

Die rolprent is vir enigiemand wat al ooit op ’n absolute laagtepunt in sy of haar lewe was en nie meer verder kon nie.

50/50 gee jou moed om weer aan te gaan. Al is die rolverdeling jonk, is dit nie ’n gemaklike, loslit-jong rolprent nie. Dit is ’n taai fliek wat net soveel vereis as wat dit bied.

Soortgelyke flieks

Juno, The Savages.

Springmieliefeite

*Die rolprent is gegrond op een van Seth Rogen se beste vriende se verhaal.

*Rogen het hom oortuig om ’n draaiboek te skryf nadat kanker by hom gediagnoseer is.

*Die rolprent se titel is verskeie kere verander. Dit is oorspronklik I’m with Cancer genoem.

Volg Huisgenoot op Twitter.