Komedie.

Met Jesse Eisenberg, Danny McBride en Nick Swardson.

Regisseur: Ruben Fleischer.

16TGS.

Begin op 28 Oktober.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit? 

Hy’s ’n koel jafel wie se grootste bekommernis is of hy pizza binne 30 minute kan aflewer.

Dan vang twee skorriemorries hom, koppel hom aan ’n bom en dwing hom om ’n bank te beroof voor die pizza koud word!

Wie sal hiervan hou?

Ouens wat tatoes van hul ouers af wegsteek, skelm uitglip saans wanneer pa en ma slaap en partytjie hou tot die spitsverkeer weer begin.

Hierdie skreeuusnaakse komedie is absoluut net vir tieners bo 16 wat koelkop is, ’n slenter in hul straatwys stappie het en wat wil uitrafel in eksamentyd.

Vergeet van jou iPad of selfoon, dis die meeste pret wat jy hierdie naweek gaan hê met koelkoos-karakters wat nuwe waardigheid aan bleeksiele gee en wat dapperder is as ’n psigedeliese toebroodjie!

’n Mens lag jou asem uit vir die manewales van ’n klomp lomp ouens wat meer testosteroon as breinselle het en wat van salami op hul pizzas hou. Maak dus jou beste pelle bymekaar, pop elke springmielie in jou boks en lag jou tekkies se veters in ’n knoop.

Jesse Eisenberg het reeds die jafel met die vermetele waagmoed, puisies en krulhare vervolmaak. Jy sal nog meer van hom hou as van Michael Cera in Superbad, want die fliek is koeler en vermeteler. Dit herstel tieners se waardigheid, wat ander onlangse rolprente aangetas het.

Net vir jonges en fliekgangers wat nog onthou hoe dit gevoel het om jonk, bedorwe en lus te voel. En wat van pizzas hou.

Soortgelyke flieks

Superbad, Superhelde, Road Trip.

Springmieliefeite

*Jesse Eisenberg het die webtuiste OneUpMe.com ontwerp.

*Hy is eintlik van Poolse afkoms en besit blykbaar nie eens ’n televisiestel nie!

*Sy ma is ’n professionele nar wat kinders vermaak op partytjies, waarheen die jong Jesse haar destyds vergesel het.

*Hy was jare lank in ’n verhouding met Twilight se Kristen Stewart.

Volg Huisgenoot op Twitter.