Prysoorhandigingsgeleenthede van wêreldstandaard is sinoniem met ’n skittervertoning wat ’n mens bybly en die kykNET Fiëstas is geen uitsondering nie.

Vanjaar se glansryke geleentheid, wat op 21 Maart 2013 in Pretoria sal plaasvind, spog met gehoorgunstelinge soos Elvis Blue, Laurika Rauch, Emo Adams en die opkomende sopraanster Friedel Mitas. Daarby word dié gesogte pryse vanjaar die eerste keer in die Staatsteater in Pretoria gehou en die gehoor kan ook na optredes deur die Mzansi-jeugkoor, die Tshwane-dansmaatskappy en ’n 12-stuk-orkes uitsien.

“Ons trek vir die gunstelinge ’n nuwe baadjie aan en die gaste kan solank hul lippe aflek vir pragtige weergawes van liedjies soos Laurika se Mannetjies Roux, Koos du Plessis se Kinders van die wind en Klein tambotieboom van Die Heuwels Fantasties, sê Janine Neethling, musiekregisseur van die kykNET Fiëstas," het kykNet in 'n verklaring bekend gemaak.

Die kykNET Fiëstas is ’n viering van die beste kunstenaars en produksies wat verlede jaar hul debuut op Afrikaanse kunstefeeste oor Suid-Afrika heen gemaak het. Die pryse word vanjaar in 15 kategorieë oorhandig en dit sluit onder meer in dié vir beste nuwe Afrikaanse produksie, beste prestasie in ’n musiekgedrewe produksie en beste akteur en aktrise. Kaartjies vir die oorhandiging van die kykNET Fiëstas, wat ook later deur kykNET uitgesaai sal word, kos slegs R150 per persoon en is by Computicket beskikbaar. Die opbrengs van die kaartjieverkope word aan die Theatre Benevolent Fund geskenk. SMS EN WEN DUBBELKAARTJIES:

20 Huisgenoot-lesers kan elk dubbelkaartjies na die toekenningsgeleentheid wen. SMS die woord FIESTAS gevolg deur jou naam en van na 34922 voor  18 Maart om 17:00. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer deelneem as wat jy wil. Die borge sal die wenners kontak. Vervoer nie ingesluit in die prys.