Vandag deel die broer-en-susterspan Mari-Louis Guy en Callie Maritz hul resepte vir heerlike snoephappies waarmee jou kinders (of jy) geld by skool- en ander verkopings kan maak.

[caption id="attachment_54583" align="alignnone" width="600"]Die broer-en-susterspan Mari-Louis Guy en Callie Maritz. Foto: Martin de Kock Mari-Louis Guy en Callie Maritz. Foto: Martin de Kock[/caption]

NÁ ’N skoolkermis-blaaskans van omtrent 20 jaar het ek en boet Callie nou ons eie kinders in skole en moet ons weer aan geldinsameling-verkopings begin deelneem.

As jy in dieselfde bootjie is, volg gerus ons ma se wyse raad. Sy was heeltemal te slim om ure in die kombuis deur te bring en het smulkosse opgetower wat vir kinders pret was om te eet, maar ook maklik genoeg dat ons dit op ouderdom twee reeds kon help maak.

Dié vroeë bekendstelling aan die kombuis was uiteindelik vir ons albei ’n seëning en ons dra dit aan ons kinders oor. Namate hulle ouer word, beplan ons om ook met hulle oor prysbepaling, wins en verlies en verkooptegnieke te gesels. Ons hoop hulle sal een van die dae hul eie stalletjies by basaars kan beman en ons sal bekend wees as superouers! Helaas het ons nog nie so ver gevorder nie en Callie en ek moet dus maar ons eie stalletjie gaan beman by die komende Drieankerbaai-kerkbasaar (meer daaroor onder). As dit jou lot ook is, is hier ’n paar blitsidees waarmee die kinders kan help. Happies vir die basaar

Ons grootouers het eenkeer vir Callie en my ’n Kersgeskenkpak lekkers oor die pos bestel. Tussen al die ander lekkernye het ons die karamel-springmielies ontdek. Ons het dit so vinnig verorber dat ons maar moes uitwerk hoe om ons eie te maak. Dié resep kom uit ons boek Markdag (Human & Rousseau) en is ideaal vir kerkbasaars, skoolkermisse en enige plek waar mense wat eens op ’n tyd kinders was, hulle mag bevind.

KARAMEL-SPRINGMIELIES

Lewer 16-20 klein koppies

Popcorn

150 g mieliepitte of 8 k (8 x 250 ml) gaar springmielies

1 k (120 g) ongesoute grondboontjies of kasjoeneute

1 t (5 ml) seesout

250 g botter

1 k (250 ml/200 g) bruinsuiker

1 k (250 ml/200 g) witsuiker

½ koppie (125 ml) gouestroop

Voorverhit die oond tot 180 °C.

1 As jy mieliepitte gebruik, skiet die springmielies volgens die aanwysings op die pakkie.

2 Meng die gaar springmielies, neute en sout.

3 Plaas ’n kastrol op lae hitte en roer die botter, al die suiker en gouestroop saam daarin tot die suiker opgelos het. Stel die hitte effens hoër en hou aan roer tot die mengsel begin kook.

4 Hou op roer en laat dit 4 minute liggies kook.

5 Drup die warm karamel oor die springmielies en neute.

6 Werk die karamel deur die springmielies met 2 houtlepels en maak seker dat die springmielies en neute oraloor deeglik met karamel bedek is. 7 Plaas 20 minute in die voorverhitte oond. Haal dit elke 5 minute uit om dit weer deur te werk en om te draai. 8 Wanneer dit klaar gebak het, skep dit op ’n skoon, koue silikoonbakmat of voer ’n bakplaat uit en skep dit daarin. Die koue oppervlak sal die kookproses tot ’n einde bring. Laat die mielies heeltemal afkoel. Die volgende resep is ook ideaal vir kermisse en basaars. Dit kom uit ons boek Koeke ter Viering van Liefde en Lewe (Random House Struik) – lees onder hoe jy dalk een van dié boeke kan losslaan. YSTERVARKIES Lamingtons Oor hierdie ystervarkies baklei ons ewe hard as wat die Skotte, Kiwi’s en die Australiërs baklei vir die reg om dié blokkies hul eie maaksel te noem. Lord Lamington, na wie dit volgens die Australiërs genoem is, kon die lekkernye nie verdra nie en het daarna verwys as “daai vervloekte pofferige, wollerige koek”. Gebruik enige spons- of plaatkoek, sny dit in blokkies, doop in een van die sjokolademengsels hieronder en rol in droë klapper.

Witsjokolade-mengsel

2 k (500 ml/270 g) witsjokoladebrokkies

1 k (250 ml) room

1 e (15 ml) melk

2 k (500 ml/160 g) droë klapper

1 Smelt die sjokolade in die room in ’n dubbelkastrol oor lae hitte en roer tot gemeng.

2 Verwyder van die hitte en klop tot lig en dik.

3 Voeg die melk by.

4 Doop die koekblokkies in die sjokolademengsel en rol dan in die klapper.

Donkersjokolademengsel

¼ k (65 ml/30 g) kakaopoeier

25 g botter

¼ k (65 ml) melk

2 k (500 ml/280 g) versiersuiker, gesif

2 k (500 ml/200 g) droë klapper

1 Meng die kakaopoeier, botter en melk in ’n kastrol oor matige hitte. Roer tot die botter gesmelt het.

2 Verwyder van die hitte en roer die versiersuiker by.

3 Doop die koekblokkies in die sjokolademengsel en rol hulle in die klapper.

Witsjokolade-en-aarbei-mengsel

2 k (500 ml/270 g) witsjokoladebrokkies

1 k (250 ml) room

1 e (15 ml) melk

’n tikkie aarbeigeursel

’n druppel rooi voedselkleursel

2 k (500 ml/200 g) droë klapper

1 Smelt die sjokolade in die room in ’n dubbelkastrol oor lae hitte en roer tot gemeng. 2 Verwyder van die hitte en voeg die melk, geursel en kleursel by. 3 Doop die koekblokkies in die sjokolademengsel en rol in die klapper. WEN!

Koeke cover 5 gelukkige lesers sal elkeen ’n eksemplaar van Koeke ter Viering van Liefde en Lewe losslaan. SMS jou naam, van, adres en die antwoord op ons vraag voor 17:00 op 18 Oktober na 34922 om vir die geskenk in aanmerking te kom. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer SMS as wat jy wil. Vraag: Na wie is ystervarkies (lamingtons in Engels) genoem? Koeke ter Viering van Liefde en Lewe is ons eerste boek en is reeds in sy vyfde druk en spog deesdae met ’n sagte omslag. Jy kan hom ook by Kalahari as ’n e-boek bestel. Nuut op die kookboekrak

Kokkedoor

Boek Kokkedoor

Skrywer Errieda Du Toit

Uitgewer Human & Rousseau

Prys R175 op kalahari.com

DIE Kokkedoor-boek is hier! Ek en Callie was verlede jaar in die basaarepisode van dié gewilde kosuitdaagreeks, en min het ons geweet daardie fantastiese ervaring sou lei tot soveel nuwe vriendskappe. Rendil, Aletta, Casper, tannie Poppie en Sarel het almal groot Facebook-vriende geword. Theresa kom van my grootwordkontrei en ons gesels elke week met mekaar. Ek is so bly hulle is almal so suksesvol.

Die Kokkedoor-deelnemers is so ’n bietjie soos die seweling-Rozenkowitz-gesin. Almal is familie, maar daar is so baie dat ek nie almal se name kan onthou nie.

Die boek-bekendstelling gaan ’n groot gekuier afgee. Errieda het in die lekkerste Afrikaans geskryf, Tiaan het gekook en Mynhardt het gestileer. (Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert was mos die uiteindelike wenners.) Die resultaat is die allerlieflikste boek en ons kon nie wag om daaruit te kook nie. Ek het tannie Poppie se gewilde brood-en-botterpoeding gemaak, maar het kortpad gekies met die amandelmelk deur net ’n skeut amandelgeursel by te gooi, want waar in die stad moet ek nou perskeblare kry? ’Skuus, tannie Poppie! Die poeding is wonderlik en die meringue-bolaag was verbasend maklik, al het ek nie ’n suikertermometer byderhand gehad nie.

Boet Callie het die beoordelaar Nic van Wyk se Kinkel-lamspastei gemaak. Dit is ’n langpad-resep, maar die eindresultaat is onverbeterlik.

My volgende poging is definitief Theresa se skilferkors.

TANNIE POPPIE SE BROODPOEDING

Genoeg vir 10 mense

Broodpoeding

Vir hierdie resep maak Poppie haar eie amandelmelk met geskeurde perskeblare wat in die melk gekook word. Hoe meer blare, hoe intenser die amandelgeur.

Broodpoeding

10 snye witbrood (verkieslik 2 dae oud)

¼ k (60 ml) ongesoute botter

¼ k (60 ml) fyn appelkooskonfyt

50 ml korente

3 k (750 ml) amandelmelk

4 eiergele

½ k (125 ml) suiker

½ t (2,5 ml) sout

fyn kaneel

5 t (25 ml) gevlokte amandels, gerooster

Franse meringue

1¾ k (440 ml) suiker

¼ t (1 ml) sout

¾ k (190 ml) water

5 eierwitte

5 t (25 ml) gevlokte amandels

fyn kaneel

Amandelvla

5 eiergele

¼ k (60 ml) suiker

knippie sout

3 k (750 ml) amandelmelk

Voorverhit die oond tot 160 °C en smeer ’n oondvaste bak.

Broodpoeding

1 Sny die korsies van die snye brood af. Smeer elke sny brood met botter en appelkooskonfyt en sny elke sny in 4 driehoeke.

2 Pak die brooddriehoeke langs mekaar in die bak met die gesmeerde kant na bo. Strooi die korente tussenin.

3 Klits die amandelmelk, eiergele, suiker en sout saam. Giet dit bo-oor die brood. Laat goed deurloop.

4 Laat 20 minute staan.

5 Sprinkel ruimskoots kaneel oor en strooi die amandels oor.

6 Bak 40 minute tot gaar.

Verlaag die oondtemperatuur tot 150 °C.

Franse meringue

1 Verhit die suiker, sout en water oor lae hitte en roer tot die suiker opgelos het. (Die mengsel moenie kook voor al die suiker opgelos het nie.)

2 Kook vinnig tot die stywebalstadium (120 °C). Klits solank die eierwitte styf wanneer die stroop byna gereed is.

3 Giet die stroop in ’n dun straaltjie oor die eierwitte terwyl aanhoudend geklits word. Plaas die bak in ’n kom koue water en hou aan klits tot die mengsel fatsoen hou.

4 Smeer of spuit die meringue oor die gaar broodpoeding. Strooi die amandels oor en bak nog 15 minute by 150 °C tot bruin.

5 Sprinkel ’n bietjie kaneel oor.

Amandelvla

1 Klits die eiergele, suiker en sout saam en roer die melk stadig by.

2 Verhit die mengsel in ’n kastrol oor baie lae hitte of in ’n dubbelkoker terwyl aanhoudend geroer word. Die vla is gaar wanneer dit so dik is dat dit ’n lagie op die agterkant van ’n lepel vorm.

3 Sit die broodpoeding voor met die amandelvla.

KINKEL-LAMSPASTEI MET 3 SOUSE

Genoeg vir 4 mense

Kinkel-lamsvleis

Lamspastei kan modern en lig wees. Sjef Nic hou van kleinhappieborde soos dié wat groot in smaak is. Dit maak tradisionele kos byderwets sonder om die gees daarvan te verander, sê hy.

Lamsvleis

2 e (30 ml) Dijon-mosterd

sout en peper na smaak

1 groot lamsblad

10 heel knoffelhuisies, ongeskil

1 takkie roosmaryn

2 k (500 ml) lamsvleisaftreksel of water

1 x suurroomdeeg (resep bo)

1 eiergeel, geklits

Suurroomdeeg

100 g botter

1¼ k (310 ml/150 g) koekmeel

½ k (125 ml) suurroom

Drie souse

TIEMIE-EN-KNOFFELSOUS

1 k (250 ml) vars room

½ knoffelhuisie, gerasper

blare van 1 klein takkie tiemie

sout en witpeper

PANSAPSOUS

sap van 1 suurlemoen

½–1 t (2,5–5 ml) mielieblom (opsioneel)

1 e (15 ml) botter (opsioneel)

VINNIGE UIEBLATJANG

20 ml (4 t) sultanas

warm rooibostee

1 groot ui, in dun skyfies gesny

15 ml (1 e) witwyn- of wit balsamiese asyn

Voorverhit die oond tot 160 °C.

Lamsvleis

1 Vryf die mosterd, sout en peper deeglik in die vleis in. Plaas in ’n oondvaste bak met die heel knoffelhuisies en roosmaryn.

2 Voeg die aftreksel of water by, bedek die bak met aluminiumfoelie en rooster 3 uur lank of tot die vleis sag is.

3 Skakel die oond af en laat die vleis in die oond afkoel.

4 Trek die vleis van die been af sodra dit koud genoeg is om te hanteer. Meng die vleis met die helfte van die pansappe. (Behou die res van die pansappe.) 5 Druk die knoffelhuisies uit die skil en meng met die vleis.

5 Rol die vleis in ’n silindervorm – sowat 5 cm in deursnee – in kleefplastiek toe, plaas in die yskas en laat afkoel tot styf. (Die vetinhoud van die vleis sal dit goed laat bind.)

Suurroomdeeg

(Dié deeg kom van die Kokkedoor-deelnemer Hetta se benepastei wat ook in die resepteboek verskyn.)

1 Sny die botter in dobbelsteentjies en pols dit saam met die meel in ’n voedselverwerker tot dit die tekstuur van fyn broodkrummels het.

2 Voeg die suurrroom by, druk die deeg liggies bymekaar tot dit ’n deegbal vorm. Draai in kleefplastiek toe en laat 20 minute lank rus

Maak die rolletjies

1Voorverhit intussen die oond tot 200 °C.

2 Rol die suurroomdeeg uit tot ’n dikte van 3 mm, of effens dikker, op ’n meelbestrooide oppervlak.

3 Verwyder die kleefplastiek om die vleisrol en vou die deeg om die vleis om dit deeglik te bedek.

4 Plaas die vleisrol met die deegnaat na onder op ’n bakplaat. Verf die deeg met die geklitste eiergeel en bak 25-30 minute of tot die deeg bros en goudbruin is.

5 Verwyder uit die oond, laat die vleisrol 2 minute lank rus en sny dan in 12 skyfies.

3 souse

TIEME-EN-KNOFFELSOUS

Kook die room, knoffel en tiemie saam tot die room met die helfte verminder het. Geur met sout en witpeper na smaak.

PANSAPSOUS

Verhit die pansappe van die lamsblad wat eenkant gehou is en die suurlemoensap saam. Verdik die sous met ’n bietjie mielieblom, indien nodig. Proe en geur met sout en peper, indien nodig. Vir ’n mooi blink sous kan die botter ook ingeroer word.

VINNIGE UIEBLATJANG Week die sultanas in die warm rooibostee tot die sultanas sag is. Hou eenkant. Soteer die ui sowat 20 minute oor lae hitte tot sag en gekaramelliseer. (Daar is genoeg natuurlike suiker in uie om te karamelliseer sonder dat suiker bygevoeg word.) Skep die sultanas met ’n gleuflepel uit die tee en voeg dit by die ui. Roer die asyn by en geur met sout en peper na smaak. Laat minstens 1 uur staan voor dit voorgesit word. Sit die vleis voor met die souse en uieblatjang. WEN ! 2 gelukkige lesers sal elkeen ’n eksemplaar van Kokkedoor wen. SMS jou naam, van, adres en die antwoord op ons vraag voor 17:00 op 18 Oktober na 34922 om vir die geskenk in aanmerking te kom. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer SMS as wat jy wil. Vraag: Wie se suurroomdeeg word vir die lamsvleisrolletjies gebruik? Kom maak ’n draai by ons stalletjies!

Basaar

Ek en Callie beman op 12 Oktober ’n kosstalletjie by die baie koel kerkbasaar van die NG Gemeente Drieankerbaai. Kom maak gerus ’n draai as jy in Kaapstad is! Ons gaan tradisionele Amerikaanse geregte voorsit soos varkvleistoebroodjies en stadig gaargemaakte BBQ-bone. Aan die soet kant gaan ons Elvis-sjokoladetertjies, klapperroomtertjies, appeltertjies en dalk ’n cobbler of twee opdis. Ons sal julle laat weet wat die beste verkoop het!

Ons gaan ook 0p 25 en 26 Oktober by die wynlandgoed Spier se tweede Geheime Fees ’n interaktiewe ontbyt aanbied. Verlede jaar se aanbod was fantasties en dié een lyk selfs asemrowender.

Wat gaan ons optower? Sjjjj, dis ’n geheim!

- Mari-Louis Guy

 Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.