o. Of ons hoop so!

[post-slider]

Nadja Seale:

Die geheim van ’n spogfamiliefoto is . . .

Om niks te doen waar jy poseer nie; dit lyk aaklig. Wees natuurlik en maak seker jou grimering en klere is mooi.

En die geheim van ’n perfekte selfie?

Om te pruil, jou wenkbrou te lig en om so ’n bietjie pretensieus voor te kom.

Wat is buite die kwessie wat familiefoto’s betref?

Blou oogskadu! Ek het ’n broertjie dood aan blou oogskadu. En dit kan nie te gestileerd wees nie.

Was daar enige oomblikke gedurende die skiet van Familiefoto wat jou geroer het?

Ja, daar was ’n vrou wat haar hele lewe wy aan haar gesin. Sy werk hard en het nooit tyd om iets met haar hare of grimering te doen nie. Sy was letterlik in trane oor die transformasie.

Enige modelwenke wat jy met ons kan deel?

Vergeet dat daar iemand is wat ’n foto neem. Dink aan iets wat jou laat lag, of aan jou hond. Jy moet selfvertroue hê sonder om oordadig te wees. En as jy skuins staan, laat dit jou maerder lyk.

Enige snaakse agter-die-skerms-staaltjies?

Baie! Ons lag ons dood hier. Ons het een keer verlengings aan ’n man se hare vasgemaak sonder dat hy geweet het dis daar en toe loop hy rond op die stel – en toe skrik hy toe hy ewe skielik hierdie lang, blonde haardos sien!

Bieg: wat is daardie een foto van jouself waarvoor jy jou doodskaam?

Natuurlik my ID-foto toe ek 16 was. Dit was verskriklik en ek gaan dit vir niemand wys nie.

Watter foto’s sal ons op jou kaggelmantel vind?

Van my man, ons Boston-terriër en ons Chinese kuifkophond.

Enige grimeerwenke wat jy met ons kan deel?

Ja, baie! As jou lipstiffie oor die lyne gaan, gebruik kleeflipstiffie as ’n lippotlood om die lipstiffie te laat sit. As jy baie sweet, maak seker jy gebruik produkte wat waterdig is. Vir enige sweet of olierigheid is babapoeier die allerbeste. Moet onder geen omstandighede blou oogskadu gebruik nie. En wanneer jy rokerige oë doen, gebruik altyd “nude” lipstiffie, anders lyk jy soos ’n fopdosser.

Terence Jansen van Vuuren:

Die geheim van ’n spogfamiliefoto is . . .

Daar is geen geheim nie: alles as ’n geheel moet net saamwerk. Die hare, grimering, klere – alles. Voor ons ’n familie se foto neem, gesels ons oor alles: van die beligting tot die agtergrond. Dit gaan alles oor daai 360-grade-komposisie.

En die geheim van ’n perfekte selfie?

Daai oomblik wanneer jy nie te gefokus is nie. Moenie probeer sexy wees nie. En moenie pruil nie; ek dink dis belaglik.

Wat is buite die kwessie wat familiefoto’s betref?

Die hele punt van Familiefoto is ons wil die hele groep se houding vasvang. Niemand moet dus al die aandag kry nie. Die intimiteit, warmte en liefde moet deurskyn – kommunikasie met die fotograaf en stilis is belangrik.

Was daar enige oomblikke gedurende die skiet van Familiefoto wat jou geroer het?Absoluut. Familiefoto is ’n baie eerlike program. Ek kry ’n knop in my keel wanneer ek na almal se stories luister. Ek kry sommer nou ’n knop in my keel deur net daaraan te dink; dis soos huil op ’n troue.

Enige wenke wat jy met ons kan deel?

Stel jou voor daar is geen kamera of mense nie. Jou uitdrukking moet eenvoudig net normaal wees; wees trots en staan regop. Wees geesdriftig; dit sal in jou oë wys. En onthou om asem te haal, want as jy ophou asem haal sal dit op kamera vasgevang word.

Bieg: wat is daardie een foto van jouself waarvoor jy jou doodskaam?

Daar is ’n foto van my in ’n tydskrif wat glad nie soos ek lyk nie. My hare, my gesig, alles lyk net belaglik. ’n Vriendin het een Sondag oor middagete gegoogle, die foto gevind en dit vir my gewys. Ek was rooi van skaamte!

Watter foto’s sal ons op jou kaggelmantel vind?

Ek het onlangs ’n pragtige 2 m-skildery van Johannesburg se stadsprofiel gekoop en bo my vuurmaakplek gehang.

Enige haarwenke wat jy met ons kan deel?

Wanneer jy nat hare borsel, gebruik ’n “tangle teaser” saam met opknapper. Dit gee jou hare so ’n bietjie volume. Dis baie belangrik om ’n goeie sjampoe te gebruik en om een keer per week ’n maskeraan te wend. Wanneer jy na die haarkapper gaan, laat die haarkapper jou vertel wat moet gebeur – nie anders om nie. Want as jy die een is wat vir die haarkapper moet sê wat hulle moet doen, is jy dalk by die verkeerde plek.

Lisa Skinner:

Die geheim van ’n spogfamiliefoto is . . .

Egtheid. Moenie ’n familiefoto neem met ’n vaste idee in gedagte nie. Ek probeer betrokke raak by die mense wat ek afneem om te sien wat werk en om hulle op hul gemak te laat voel. Mens moet konsentreer op dit wat vir hulle belangrik is en om die familie se gees vas te vang en om net pret te hê. Op Familiefoto se stel hou ons van lag. Ons is minder Vogue en meer Zoolander – en ek is meer Bridget Jones as Catherine Zeta-Jones.

En die geheim van ’n perfekte selfie?

Om nooit een te neem nie. Maar as jy absoluut moet, gee konteks. Ek verstaan nie net ’n gesig nie. Gee so ’n bietjie agtergrond, wys waar jy is of doen iets onverwags.

Wat is buite die kwessie wat familiefoto’s betref?

Swart-en-wit met een ding in kleur, soos ’n rooi rok in ’n swart-en-wit foto. En die hele kaal-familie-ding.

Was daar enige oomblikke gedurende die skiet van Familiefoto wat jou geroer het?

So baie! Ek dink ons het baie opregte mense op Familiefoto. Nie modelle nie; gewone mense. Hulle is selfbewus oor hoe hulle lyk en hulle is bekommerd oor hul geldsake en hulle knyp nie tyd af om hulself te bederf of aan hulself aandag te gee nie. En sodra jy aandag aan hulle gee, is dit soos om ’n blom te sien blom. Hulle kry lewe, want iemand sien hulle raak. My filosofie is: ’n mens moet na almal luister.

Enige modelwenke wat jy met ons kan deel?

As jy nie wil hê iemand moet jou afneem nie, sal dit op jou gesig wys. Wees eg en vrygewig. En as jy bekommerd oor ’n dubbele ken is, neem altyd die foto van bo af!

Enige snaakse agter-die-skerms-staaltjies?

My Afrikaans is baie snaaks. Ek het ’n hele dag lank vir ’n tannie vertel ek hou van haar “toerusting”, nie haar “uitrusting” nie. Maar ek probeer ten minste. Ek noem Terence “Tarentaal” en vir Nadja “Mooi Ding”. En ek is die nar op die stel; daarom bind ek snaakse goed aan my kop of sit goed in my hemp, en dan raak ek net heeltemal verspot.

Bieg: wat is daardie een foto van jouself waarvoor jy jou doodskaam?

Amper almal! Ek is baie onfotogenies. Maar daar’s veral een: in my derde jaar was ek in ’n mimiek-stuk en ek het ’n Meksikaanse komediant gespeel. Ek het nege dubbele kenne gehad en ek was die kleur van ’n beet.

Watter foto’s sal ons op jou kaggelmantel vind?

Foto's van al die plekke waar ek gereis het (van Timboektoe tot die Maldive), ’n foto van my pa toe hy klein was, ’n portret van Madiba waar hy so oulik lag en sy oë soos ’n stoute seuntjie s’n blink. En foto's van bome. Ek neem gereeld foto's van bome, al weet ek niks van bome af nie; dis net vir my so mooi.

’n Nuwe aflewering van Familiefoto word elke Donderdag om 17:00 op VIA uitgesaai.