Deur Mari-Louis Guy

Verreweg die moeilikste taak van ons Koekedoor-beoordelaars is om deelnemers te moet groet. Dag ná dag bestee jy soveel tyd saam met hulle en leer ken hul persoonlikheid en drome, maar dan kom die tyd dat jy ’n oordeel moet vel oor wie bly en wie ry. Dus is die dae – soos met gisteraand se episode – waarop ons niemand huis toe stuur nie, my, Elizabeth en Tiaan se gunstelinge.

Daar verloop ’n hele ruk tussen die vervaardiging en uitsaai van die program en in dié tyd moes ek my al klaar inhou om nie uit te blaker wat alles gebeur het nie. En toe Koekedoor eers die kassie tref, was dit regtig moeilik om geheim te hou wie wanneer weg is.

Vrydagoggende wanneer ek die kinders by die skool aflaai moet ek behoorlik koes, want iewers gaan iemand vir my vies wees oor wie die vorige aand uitgestem is.

Soos baie van sy maatjies was my seun Maximo ’n groot aanhanger van Cecilia. Die aand nadat sy uitgestem is, was hy so in trane dat ek later vir Cecilia moes bel. Die bewondering in sy ogies toe hy agterkom dat dit regtig sy is met wie hy praat, was kostelik – dit kon net sowel Harry Styles van One Direction gewees het.

So moes ek die afgelope week ook ’n hele lot lawe weens Murray se onverwagse vertrek – min mense het dit sien kom. Louise Dudley, wat ons ou bakgroepie eerste moes verlaat, skryf toe die volgende op Murray se Facebook: “Liewe Murray Pienaar – ek het nou eers Do.aand se episode gekyk en gekraai van die lag. Dit wys jou nou – hekse is nie te vertrou! Ek is sóóó spyt dat jy uit is – my geld was op jou om top-drie toe te gaan. Hou asb. aan bak en blog – jy was ’n fantastiese contestant!”

koek murray

Met Louise se vertrek uit die kombuis was my ma, Este, sommer goed grimmig vir my. Louise was erg pittig en baie pret op kamera en haar inskryfkoek was een van die beste. Soos ek wou Este haar beslis langer in die reeks sien.

koek louise

Met haar perfekte gelaatstrekke het Caroli my aan ’n Disney-feëprinses herinner. Vir ons as beoordelaars, en veral vir Elizabeth, was haar vertrek baie hartseer. Sy was fighting fit, vreesloos en vol lekker idees.

koek caroli

Vir Tish het ek onlangs weer by ’n kinderpartytjie raakgekuier. Dat sy vroeg uit is, was vir my ’n groot teleurstelling, want die mevrou dominee is werklik bakfiks danksy jare en jare se kerkbasaars. Tish se seun is predikant by die NG gemeente Drieankerbaai hier in Kaapstad. Hy het die basaarvaandel oorgeneem en dit so ’n sukses gemaak dat ons stadsjapies die basaardatum al maande voor die tyd omkring. Ek en boet Callie hoop om vanjaar die poedingtafel te laat dril.

_MG_5158 copy

Ek verwag dat die reaksie elke week net hewiger sal word, want die oorblywende deelnemers het nou al diep in almal se hart gekruip.

Valerie Slabbert het soveel harte gesteel met haar oulike Pinocchio-koek en ek is so bly oor haar gewildheid, want op ’n persoonlike vlak is sy ’n mens met soveel deernis vir ander. ’n Groot hart vir so ’n fyn mensie. Sy word met elke episode ook net beter.

_MG_5434_2 copy

Mareli se menslikheid en boksprongetjies het hierdie meisie van Douglas vreeslik gewild by die publiek gemaak.

_MG_0848 2

Gerda, die koeksisterkoningin, met haar lekker sêgoed kruip elke week dieper in mense se hart in en haar “stewige koek” behoort nou aan die volk.

koek gerda

Martjie begin haar geaardheid wys en ons voel deernis en verstaan die pêrels om die nek so goed.

martjie

Gerrit is hierdie groot bondel liefde wat ’n mens net wil vasdruk; hy verteenwoordig vir my so alles wat goed en mooi is.

koek gerrit

Gisteraand se episode

Errieda du Toit het die deelnemers weer goed getoets met nostalgiese nageregte soos telefoonpoeding wat ’n kolwyntjie se baadjie moes kry, ’n werklik pragtige St. Honoré-koek in ’n totaal vernuwende hoedanigheid en ’n baie slim koekstruifkoek waarvan elke snytjie mooi moes lyk. Sy is ’n wonderwerk van idees.

Baie geluk aan Martjie wat die heerlike treintoer met haar wenslag losgeslaan het.

Ek het dié episode se top-twee vir hul terugvoer gevra.

[post-slider]