Deur Etienne van Heerden

Hy onthou die kind wat aan sy ma se arm trek by die sandlopie en neul: Aag kom nou, Ma; aag kom nou, Ma.

Hy tel die sakdoek op; dis klein, ’n vrou s’n. Die reuk is Martha s’n. Soet en swoel.

En hy gaan staan met sy hande op die hefbome. Hy voel die lam in hom lê.

Martha . . .

Stadig gaan hy na die foon en draai die slinger.

Die volgende halte sal die passasierstrein laat stop; gelukkig is hy nog nie daar nie.

“Is daar fout op Kreerivier?” vra die stasiemeester aan Ferreira.

“Nee,” sê hy, “nee. Keer net die passasier.”

Hy onthou wat sy gesê het toe hulle ’n maand gelede gehoor het van die kalf wat deur die trein getrap is . . .

Ferreira gaan sit op die bankie voor die stasie. Eers wou hy huis toe bel, maar hy weet dat die kind nooit die foon antwoord nie.

Weerskante strek die spore tot waar die water hulle insluk . . .

Later hoor hy iets en ver, uit die rigting van die huis, kom ’n figuurtjie aangestap.

Die kind.

Stadig stap die kind, ingedagte, asof hy vêr dink . . . en probeer verstaan, maar nie kan nie.

Ferreira staan op om die kind in te wag.

Kop onderstebo kom die kind tot voor hom, en staan dan, lig sy kop en sê: “Ek het ’n skinkbord gemaak, Pa.”