Deur Etienne van Heerden

In die middag teen halfvier stap stasiemeester Ferreira na die kleinhuisie agter die stasiegebou.

Hy het die sinjaal gesak vir die drieveertig, want dié moet eers wag vir die passasierstrein van De Aar af, wat sonder stop moet deurry Port Elizabeth toe.

Hy het dus ’n goeie 20 minute om in die kleinhuisie te sit en opnuut te dink oor Martha en die kind, en hoe dit op ’n groot stasie sal wees.

Die stafie son speel oor sy kop; hy sit kop onderstebo en moet kort-kort met sy hande die vlieë verjaag.

Hy kan al die drieveertig hoor nader kom.

Die sinkmure vat die trillings van die trein op, en dis asof die mure bewe.

Skielik besef hy: Die trein dreun verby!

Hy strompel vervaard op, knoop sy broek in die hardloop toe en vergeet sy pet wat aan die haak van die kleinhuisdeur hang en liggies swaai.

Binne die sinjaal kamer sien hy onmiddellik: Iemand het met die hefbome gelol. Hy kyk uit: Die sinjaal wys dat die drieveertig kan ry.

Hy hardloop uit na die platform, die agterkant van die kondukteurswa raak ál kleiner.

Die kondukteur leun uit en waai na hom.

Hy wil sy pet vat om te waai, maar hy is kaalkop, en hy swaai sy arms en skree maar net.

Maar die son en hitte en dreuning van die dieselenjins vreet sy stem op.

Hy moet bel, en storm na binne met die volgende halte se nommer alreeds in sy kop.

By die hefbome, op die blink gepoleerde vloer, sien hy ’n sakdoek lê. Hy steek in sy spore vas.