Deur Etienne van Heerden

TOE hy die volgende oggend werk toe stap langs die blink spore af, boor die son alreeds in sy nek. Dis ’n snikhete dag, en al is dit agtuur in die môre, sing die sonbesies al in die bosse langs die spoor.

Langs die stasiegebou, om raam met netjies gepakte kalkklippe, is ’n grasperkie. In die een hoek van die lappie waar die stasiegebou se skaduwees nooit val nie, al skuif die son hoe, is daar ’n droë kol waar die kaal aarde al die oorhand gekry het.

Elke oggend wanneer stasiemeester Ferreira die 200 tree van sy huis af na die stasiegebou stap, hou die blink spoorstawe sy oë.

Dit is asof die stawe en die son wat daarop kaats, sy oë neem en neem, tot waar die twee ysterlyne mekaar in die verte vasvat in een blink blerts op die vlakte. En as die son fel is, soos vandag, bibber daardie blerts ’n paar duim bo die horison, en is dit soos water.

Dan is dit asof die groot, pruttende diesels hul trokke die water insleep, weg van die grasperkie af, die peperbome en die ry rooi brandemmers by die sinjaalkamer.

Die rooi emmers is met sand gevul. En elke oggend, trommeltjie in die hand en korrels sweet alreeds op sy voorkop, betrag hy die kolletjie kaal grond in die hoek van die grasperk.

As die kolletjie groter lyk, vat hy die gieter en verwaarloos daardie dag die peperbome.

En hy haal al die sigaretstompies uit die vuuremmers wat die nagmeester en kondukteurs in die nagure daar ingegooi het terwyl hulle op die perron staan en rook.

Dit is in die tyd tussen die treine dat hy sit en dink. Hy sit op die bankie voor die stasie, só dat hy die spoor na weerskante toe kan sien.

Dan dink hy wat hy vir Martha kan doen.