Deur Etienne van Heerden

Buite sak die skemer en dis asof dit warmer word. Hy staan op en steek die olielamp aan.

Nou kom die aand, die nag. En soms lê hy snags langs sy vrou en wens die oggend kom sodat hy in sy blink stasie kan gaan staan en die hefbome gooi, wat die sinjale laat lig of val.

Sy verstaan nie.

Sy staan skielik in die deur. Hoe gekreukel haar rok, en die lamp se skaduwees maak haar oud lyk.

“Ons moet trek,” sê sy.

Hy kou sonder om te antwoord.

Sy verstaan nie. Sy staan in die deur en kyk na hom.

“Die kind se rapport het gekom,” sê sy.

“Hy’t gedop.” Hy kyk na die kind. Die kind kyk na die sifdeur en die nag buite.

“Ek het ’n skinkbord gemaak,” sê die kind. Skielik vlieg hy op, stamp die sifdeur oop en hardloop na buite.

“Ons moet weggaan,” sê sy vrou.

“Nee,” sê hy. “Nee.”

“Die kind moet by ’n spesiale skool kom,” neul sy.

“Dan stuur ons hom.”

Sy kom sit skielik op die kind se stoel, kyk oor die tafel na hom.

“Dan is ek alleen in die . . . gehuggie.” Haar mond kry ’n bitter trek.

Hy haal sy skouers op. “Net ’n paar jare, Martha, dan word ek verplaas na ’n groter stasie, dan . . .”

Sy begin huil, soos altyd. Hy wil haar vertel van sy sinjaal kamer; die sinjale wat regop langs die spoorwag dat hy die hefbome gooi.

En as hy hulle gooi, op die minuut, op die sekonde, begin die groot diesels brul, sidder die magtige lywe.

Maar eers moet hulle wag, met hul trokke vol uraan of vakansiegangers–wag, wag, wag – tot hy die sinjaal gooi.

Dan dreun die trein voor die platform verby, dit ruik na die diesel en olie. Die stilte breek oop en ’n wind vlug deur die peperbome, en dan, skielik, is dit stil. Die trein het in die water verdwyn . . .

Sy stap kamer toe en hy sit sonder woorde.

Sy verstaan nie. Dit is sy stasie, syne. En in ’n groot dorp is daar te veel stasiemeesters. Te veel treine en syspore, dis anders hier.

Hy hoor haar huil agter die toe deur. En buite in die donker vroetel die kind. Hy sny nog ’n sny brood, en nog ’n trein kom verby met die geraas wat die hele huis vul en die vrou se gehuil smoor en die kind laat stilstaan in die donker om met groot oë te luister.