Deur Etienne van Heerden

OM HALF SES gee die stasiemeester Ferreira oor aandie nagmeester, wat die 30 kilometer van die dorp af kom. Met sy trommeltjie stap hy huis toe. Die son sit al skuins en hy loop en dink hoeveel treine vandagdeur sy sinjale gegaan het.

Hy stap verby die kind in die tuinpaadjie. Die kind bromoor sy karretjies. Eenmaal het hy vir die kind ’n klein lokomotief gekoop. Dit het weggeraak, later het hy dit in die hoenderhok sien lê.

Hy klap die sifdeur agter hom toe, en die klossie vlieë draai om sy ore en gaan sit dan weer op die gaas.

Hy roep sy vrou. Sy antwoord nie. Hy stap slaapkamer toe. Sy sit op die bed en kyk hoe hy sy trommel neersit en sy swart baadjie uittrek en sy pet agter die deur ophang.

“Naand,” sê hy.

Sy antwoord nie, kyk net na hom.

“Die kos is op die tafel,” sê sy naderhand.

Hy stap kombuis toe en sit aan. Hy rol sy swart hemp se moue op. Hy roep na die kind, wat die sifdeur onnodig hard laat klap.

“Pa het gesê jy moet die deur sag toemaak.”

Die kind antwoord nie. Dalk hét hy geantwoord, maar ’n trein dreun verby. Eers, toe hulle kort hier was, het die treine hulle snags wakker gemaak, want die spoorlyn loop dig teen die huis verby.

Maar later word die treine se geraas ’n ánder soort stilte. Jy hoor dit, maar hoor dit ook nie.

Hy smeer botter op die brood en sny brokke makataan. Hy skink koffie vir hom en die kind, wat woordeloos oor die tafel na hom staar.

“Hoe gaan dit in die skool?” vra hy.

“Ek het ’n skinkbord gemaak,” sê die kind deur ’n vol mond kos.