Deur Etienne van Heerden

Hy’t hul spore gevat; sy’t met die kind die veld ingeloop. Hy het hulle gekry in ’n sandlopie, waar sy met haar rug teen die wal sit en huil, en die kind aan haar een arm hang en trek en sê: “Aag kom nou, Ma, aag kom nou, Ma . . .”

Dis so in die middel van niks, het sy gesê. Net die treine kom verby, vol blink karre wat van Port Elizabeth af binneland toe gevat word. Rooies en geles en groenes; ook die kind staan oopmond wanneer die trokke met die stringe nuwe karre verbykom.

“Waarheen gaan die karre alles?” vra sy vrou altyd. Maar hy weet sy wil nie ’n antwoord hê nie.

Wat sy wil sê is: “Komons gaan ook stad toe, of na ’n dorp . . .”

Hier is vlieë en die huis is elfuur al weer vol stof nadat jy negeuur uitgevee het; die stof kruip oor die drumpel, sypel deur die sifdeur tot in die matte en komberse en matrasse.

En dan kom die passasierstreine verby, snags, met hul verligte kompartemente en die mense wat binne-in op pad is, net iewers heen, neul sy altyd . . . Net iewers heen.