Deur Etienne van Heerden

Saans wanneer hy van diens af kom en met die gruispaadjie opstap na die voordeur, speel die kind in die stof langs die tuinpaadjie.

Die kind het ’n paar karretjies wat hy eindeloos in die stof rondstoot.

Wanneer hy die tuinhekkie hoor en opkyk en sy pa sien, flikker daar ’n effense belangstelling in sy oë. Maar dan speel hy weer, stoot stofpaadjies met die handpalm, of sit by die leë visdammetjie en staar na die geroeste blikke en glasstukke op die bodem.

Dit is die kind. Effens agter in die verstand, het die skool geskryf, en die kind oorgesit na die klas wat met hul hande werk, mandjies vleg en in die tuin skoffel.

Dis tóé dat die vrou begin stil raak het. Of het hy dit tóé maar eers opgelet? Sy’t altyd gekla oor die alleenheid–dit ís ’n wye wêreld –wanneer hy wegstap stasie toe indie oggend en die skoolbus voor hul huis stilhou vir die kind.

En die gesukkel met die tuin. Al wat wil groei, was malvas en vygies, en as ’n droogte kom, het selfs dié gevrek.

En sy’t begin drink. Saans, wanneer hy tuis kom, was daar eers net ’n ligte surigheid op haar asem. Later meer. Een aand was die kind nie langs die tuinpaadjie nie. Die huis was leeg en die deure en vensters het oopgestaan.