Deur Etienne van Heerden

STASIEMEESTER Ferreira kom uit die kleinhuisie, waar hy altyd sit en peins terwyl ’n wit stafie son deur die skemerte verby sy kop boor. Wanneer hy daar sit en sy kop net effens kantel, skiet daardie straal son hom vol in die gesig en dan is dit asof hy wakker word uit die hitte, en dan dink hy weer–daar agter die sinkdeur – aan die stasie, die spoorstawe na weerskante toe . . . en sy vrou en kind.

Nou skuur hy die sinkdeur agter hom toe, voel-voel aan sy gulp, en knipper sy oë teen die ongenadige son.

Agter die halte, dwars, lê ’n yl bergreeks, parallel met die glimlaggende spoorstawe wat na weerskante toe weg van die stasiegebou pyl. Dit is harde Karoo; die yl berg is bruin en skurf en soms, in die skemer, lyk dit soos een van die groot diere wat eeue gelede in die wêreld deur moerasse geploeter het.

Maar al die groenigheid voor sy oë is ’n klossie yl peperbome met grondwalletjies om hul stamme. As die treine stil is, soos nou, kom hy uit die gebou en dra na elke boom een gieter water. Die water sprinkel blink uit die tuit en word byna dadelik deur die grond opgesuig.

Daar’s fout met sy vrou, tob hy terwyl hy die laaste druppels uit die tuit skud.