In die roerende slotaflewering het sy en Martjie Malan teen mekaar te staan gekom.

[post-slider]

Hoe voel dit om die eerste wenner van Koekedoor te wees?

Dit is vir my ’n groot eer. Ek is so trots om die Noord- Kaap en spesifiek Douglas te verteenwoordig. Ek het nooit besef watter uitwerking dit op my gemeenskap sou hê nie en dis so lekker om te sien hoe ons mense aangespoor het om aan die bak te raak.

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek het nie eens van die kompetisie geweet nie tot my vriende my gebel en gesê het daarvan nie. Toe ek die inskryfvorm lees, het ek gedink: miskien sal ek dit kan doen.

Toe die reeks begin het, wie het jy gedink het die beste kans om te wen?

Beslis Martjie. Sy is ’n voorslagbakker en so presies in alles wat sy doen.

Wat het jy geleer?

Ek sal sê om dapper te wees. Ek dink almal moet so af en toe ’n bietjie braaf wees. Jy sal verbaas wees hoe jou lewe nuwe wendings kan neem deur ’n bietjie uit jou gemaksone te kom.

Watter uitdaging was vir jou die lekkerste?

Beslis die raaiselkoek. Daardie dag was ek so opgewonde oor my plan en was verskriklik bly toe ek hoor alles wat ek beplan het, het reg uitgewerk.

Wat was vir jou die heel moeilikste tydens die vervaardiging van die reeks?

Om ná elke uitdaging na die dagboekkamer te gaan vir die onderhoud. ’n Mens is so moeg nadat jy klaar gebak het en dan was die dagboeksessie nogal erg.

Het Koekedoor jou lewe verander en wat hou die toekoms vir jou in? Herken mense jou al op straat?

'Ek voel eintlik steeds soos die plaasmeisie van Douglas.'

Almal sê dat dit my lewe gaan verander, maar ek voel eintlik steeds soos die plaasmeisie van Douglas.

Daar is natuurlik plek-plek mense wat my op straat herken, maar dis so lekker om te hoor hoe hulle die program geniet het en watter deel vir hulle uitgestaan het.

Dis was egter baie sleg om 13 weke lank sonder om te blik of bloos vir almal te moes jok, want hul eerste vraag was altyd: “Mareli, sê my net, het jy gewen?”

Watter kospersoonlikhede inspireer jou?

Die gewilde kosskrywer en -persoonlikheid, Herman Lensing. Ná afloop van die program het ek die eer gehad om hom te leer ken. Hy is ook ’n Noord-Kaapse kind en wat hy met kos doen, is inspirerend.

Gunstelingkoek of -tert en hoekom?

Pavlova. Ek is mal oor meringue. Die sagte binnedeel en die vars vrugte daarop is net te veel vir my. Ek sal ’n hele pawlowa alleen opeet!

Wat verkies jy, soet- of soutgebak?

Sout, sal ek sê. Ek het nie eintlik so ’n suikertand nie. Maar aan ’n teetafel sal ek goed aan albei weglê.

As kykNET weer so ’n reeks maak, wat sal jou raad wees aan voornemende deelnemers?

Moenie die proses oordink nie. Geniet elke oomblik, al is dit soms moeilik. Agterna beskou sien ek nou dat die dae wat ek vrolik was, ek beter gebak het as die dae waarop ek nie lekker gevoel het nie. Ek vermoed dat jou emosies beslis jou gebak beïnvloed.

Waar kan mense jou kontak? (Facebook, Twitter, webtuiste?)