Volgens die hofdokumente het dr. Stoyan Hristov Stoychev van Bulgarye sy Hyundai i30 sonder een van sy nommerplate bestuur, die “C” op die nommerplaat na ’n “O” verander en twee van die syfers omgeruil.

Maar ’n Ford Bantam-bakkie met dieselfde nommerplaat was ’n geregistreerde e-tolgebruiker.

Die koerant berig dit is die eerste sodanige vervolging sedert die e-tolstelsel op 3 Desember 2013 van krag geword het.

Stoychev het Dinsdag op 1907 aanklagte in die landdroshof in Pretoria voorgekom. Altesaam 903 daarvan is vir beweerde bedrog van R15 000 vir die gebruik van vervalste plate.

Die res is vir die beweerde oortreding van die Nasionale Padverkeerswet en die Nasionale Padwet.

Stoychev het na bewering die nommerplate met kabelbinders vasgemaak vir maklike verwydering, geweier om e-tolgeld te betaal, sonder nommerplate bestuur, sy nommerplaat verander en nie sy lisensieskyfie behoorlik vertoon nie.

Verkeersbeamptes het hom op 2 Oktober op die N1-snelweg in Centurion voorgelê en vasgetrek.

Borgtog van R10 000 is aan hom toegestaan.

- Sapa