Drama.

Met Robert Pattinson, Reese Witherspoon en Christoph Waltz.

Regie: Francis Lawrence.

2011. 116 min.

13G.

Ons dink: 3/5

Jacob (Pattinson), ’n veeartsenykunde-student, is wanhopig en haweloos ná ’n tragedie.

Hy kry ’n saamrygeleentheid op ’n sirkustrein en beland gou in ’n liefdesdriehoek met die sirkus se sterkunstenaar, Marlena (Reese Witherspoon), en haar man, die sirkuseienaar, August (Christoph Waltz).

Boonop is daar ’n nuwe toevoeging tot die sirkustent: Rosie, ’n olifant wat almal hoop die nuwe ster sal word en die sukkelende sirkus sal red.

Die rolprent is ’n pragtige, oudmodiese skouspel en slaag skitterend daarin om die unieke sirkusomgewing van die 1930’s te herskep.

Nes in Inglourious Basterds steel Waltz die kollig as die innemende maar wrede August, maar Pattinson en Witherspoon vaar minder goed.

Die vonk tussen hulle is kommerwekkend flou vir mense wat bereid is om alles op die spel te plaas om bymekaar te wees.

Gelukkig red Rosie die fliek, want hierdie manjifieke dier se storie roer jou meer as die liefdesdriehoek waarom alles eintlik draai.

Bonus: kortflieks.

Volg Huisgenoot op Twitter.