Wetenskapsfiksie-aksie.

Met Caitlin Stasey, Rachel Hurd-Wood en Lincoln Lewis.

Regie: Stuart Beattie.

2010.

103 min. 13OTG.

Ons dink: 3/5

Hierdie avontuur wat gegrond is op ’n gewilde reeks boeke vir tieners is heel kykbaar, maar al oorspronklike aspek is dat dit in Australië afspeel.

’n Groep tieners van ’n klein dorpie gaan kampeer, maar met hul terugkeer ontdek hulle Australië is deur ’n naamlose Asiatiese land binnegeval en hulle wil die vasteland se hulpbronne benut.

Eers is hulle paniekerig, maar geleidelik werk hulle ál meer saam en begin met ’n guerrillaveldtog teen die invallers.

Dit voel geforseerd dat so ’n groep uiteenlopende tieners saamgegooi word en die jong akteurs sukkel aanvanklik om te oortuig in die tonele wat hul karakters se eienskappe en verhoudings blootlê.

Maar sodra die pas versnel, begin die storie jou boei danksy die goed beplande aksietonele.

Die helde maak soms irriterende foute – hulle is immers net gewone tieners en nie opgeleide soldate nie. Maar op die ou end is jy tog aan hul kant.

Bonus: alternatiewe einde, regisseur se kommentaar, kortflieks.

Volg Huisgenoot op Twitter.