Fantasie.

Met Chris Hemsworth, Anthony Hopkins, Natalie Portman en Tom Hiddleston.

Regie: Kenneth Branagh.

2011. 111 min.

13OG.

Ons dink: 4/5

Toe die arrogante kryger Thor (Hemsworth) ’n wapenstilstand tussen die gode van Asgard en die ysreuse verbreek, stroop sy pa, koning Odin (Hopkins), hom van sy mag en verban hom na die Aarde.

Hier ontmoet hy ’n wetenskaplike (Portman) en dié leer hom om nederig te word.

Hierdie fliek oor die Marvel Comics-superheld met sy vloeiende blonde maanhare en reuse hamer kon maklik in ’n stroperige, gekunstelde klugspel ontaard het.

Maar die regisseur Branagh handhaaf ’n fyn balans tussen opera-agtige Asgard-skouspele wat soos ’n doodernstige Shakespeare-drama aangebied word, en tong in die kies tonele op Aarde waar almal Thor se optrede en spraak snaaks vind.

Hopkins en Hiddleston, as Loki, het teateropleiding en verleen geloofwaardigheid aan potensieel hoogdrawende karakters.

Aanhangers van Noorse mitologie sal dit geniet om hierdie afgeskeepte gode en hul grootse ryk te sien lewe kry.

Bonus: kommentaar, uitgesnyde tonele, kortfliek.

Volg Huisgenoot op Twitter.