Misdaadriller.

2010. 149 min.

Met Ben Affleck, Rebecca Hall en Jeremy Renner. Regie: Ben Affleck.

16GNSTD.

Ons dink: 4/5

Doug Macray (Affleck), sy jeugvriend James Coughlin (Renner) en hul bende bankrowers regeer die onderwêreld in die rowwe buurt Charlestown in Boston.

Met die intrapslag al hoor ons dat dié plek baie gewapende rowers oplewer.

Een van hul bankrowe verloop nie volgens plan nie en hulle neem die bankbestuurder Claire Keesey (Hall) tot gyselaar voor hulle haar ná ’n rukkie ongedeerd vrylaat.

Maar sy woon in Charlestown en die bende is bang hulle sal haar daar raakloop en dan gaan sy die FBI inlig. Doug reël ’n oënskynlik toevallige ontmoeting met haar om haar te leer ken en uit te vind hoeveel inligting sy die FBI gegee het, maar dan raak hy op haar verlief.

Affleck is die regisseur, draaiboekskrywer en hoofakteur in hierdie spannende en hoogs vermaaklike fliek – ’n welkome treffer ná sy wisselvallige loopbaan sedert sy eerste treffer, Good Will Hunting, saam met Matt Damon.

The Town word ten sterkste aanbeveel.

Bonus: kortflieks.