Aksieriller.

2010. 99 min.

Met Angelina Jolie, Johnny Depp en Paul Bettany.

Regie: Florian Henckel von Donnersmarck.

13OTG.

Ons dink: 2/5

DIE polisie, en spesifiek insp. John Acheson (Bettany), hou Elise (Jolie) fyn dop in die hoop dat sy hulle na haar bedrieërkêrel, Alexander Pearce, sal lei. Hy het biljoene van ’n bendelid gesteel.

Dan verskyn die wiskundeonderwyser Frank Tupelo (Depp) op die toneel. Elise maak op ’n trein met hom vriende om die polisie op ’n dwaalspoor te lei en hy raak op haar verlief.

Depp lyk verveeld en oortuig glad nie as ’n vaal outjie nie, en al lyk Angie soos gewoonlik beeldskoon, is daar geen vonk tussen hulle nie.

Die beste “akteur” in die fliek is eerder die asemrowende mooi stad Venesië.

Die storie is voorspelbaar en amper te stadig vir ’n aksieriller, maar daar is hope glans en ’n paar snaakse oomblikke.

As jy ’n aanhanger van Jolie en Depp is en van jou aksie met minder testosteroon en brandende motors hou, sal jy dit geniet.

Bonus: hope, kommentaar en kortflieks inkluis.