Drama.

Met Colin Firth, Geoffrey Rush en Helena Bonham Carter.

Regie: Tom Hooper.

2010. 122 min.

OT.

Rating: 4/5

HIERDIE knap vervaardigde fliek met onberispelike toneelspel verdien al die pryse wat dit losgeslaan het, waaronder Oscars vir die beste rolprent, draaiboek, regisseur en akteur.

Dit gaan oor die ware storie van Albert, die hertog van York (Firth), se stryd om sy hakkelprobleem te oorwin met die hulp van ’n eksentrieke Australiese spraakterapeut, Lionel Logue (Rush).

Al speel dit in ’n wêreld af wat ver verwyderd is van die meeste mense se lewe, is die aangrypende tema van iemand wat swaarkry, maar tog seëvier, iets waarby almal kan aanklank vind.

Die intelligente, pittige draaiboek gebruik stiltes en verposings net so goed soos woorde. Die fliek draai om die vriendskap tussen Albert en Lionel.

Firth laat Mr Darcy eindelik agter om ’n genuanseerde vertolking te lewer van ’n man wat verlam word deur vrees.

En dis wonderlik om te sien watter uitstekende aktrise Helena (as die latere koninginmoeder) is wanneer sy nie onder ’n wilde pruik wegkruip nie.