Drama.

Met Mark Wahlberg, Christian Bale, Melissa Leo en Amy Adams.

Regie: David O. Russell.

2010.

111 min.

13TGD.

Ons dink: 5/5

Verloorders wat teen alle verwagting in die meisie en die glorie kry, is al dekades lank ’n gewilde onderwerp vir sportflieks.

Maar die ware verhaal van die bokser “Irish” Micky Ward (Wahlberg) styg bo die res uit danksy Wahlberg se sterk maar subtiele spel.

Micky leef in die skadu van sy ouer broer, Dickie (Bale, in die rol waarmee hy ’n Oscar gewen het).

Dié is ’n voormalige kampioenbokser wat op sy eertydse glorie teer terwyl hy in ’n dwelmverslaafde newel deur die lewe dobber.

Dickie is ook Micky se afrigter, en hul oorheersende ma (Leo, die fliek se ander Oscar-wenner) is sy bestuurder. Namate Micky se boksdroom vervaag, probeer hy met sy nuwe meisie, Charlene (Adams), se hulp uit sy gesin se greep loskom.

Al is dit ’n bekende storie, voel The Fighter nooit soos ’n opgewarmde Rocky nie.

Maar nes met Rocky kan jy nie anders as om die onderdrukte te steun nie.