Komediedrama.

Met Vince Vaughan, Kevin James, Winona Ryder en Jennifer Connolly.

Regie: Ron Howard.

2011. 111 min.

13TG.

Ons dink: 3/5

Ronny (Vaughan) vind uit dat sy beste vriend, Nick (James), se vrou, Geneva (Ryder), hom verkul. Moet hy vir Nick sê? En wanneer?

Hulle is sakevennote wat motors ontwerp en op die rand van ’n groot transaksie, en Ronny kan nie bekostig dat Nick nou kop verloor nie. Wat moet hy doen?

Dis ’n taamlik ernstige onderwerp vir ’n komedie, maar die regisseur, Ron Howard, trap fyn. Hy fokus op Ronny se pogings om die dilemma te hanteer terwyl hy probeer uitpluis hoe om sy meisie, Beth (Connolly), die jawoord te vra.

Vaughan is in sy element en lewer een van die beste vertonings van sy loopbaan. James oortuig as die uitgemergelde Nick, en Channing Tatum as Geneva se katelknaap en Queen Latifah as ’n eksentrieke sakekonsultant sorg vir nog pret.

Nes Ronny en Nick se nuwe ontwerp (’n elektriese motor met ’n klankstelsel in die kattebak wat dit soos ’n brullende V8-enjin laat klink) gee die fliek middeljarige angs ’n testosteroon-inspuiting. Dis verrassend vermaaklik.

Bonus: uitgesnyde en alternatiewe skote, kortfliek, blapse.