Fantasie-avontuur.

2010. 120 min.

Met Ben Barnes, Georgie Henley, Skandar Keynes en Will Poulter.

Regie: Michael Apted.

13OG.

Ons dink: 3/5

In die derde fliek wat op C.S. Lewis se klassieke kinderfantasieverhaal gegrond is, woon die twee jongste Pevensie-kinders, Lucy (Henley) en Edmund (Keynes), by hul aaklige neef, Eustace (Poulter), terwyl die Tweede Wêreldoorlog voortwoed.

Maar hulle is kort voor lank terug in Narnia om by Caspian (Barnes), die huidige koning, aan te sluit op ’n reis om sewe vermiste lords op te spoor.

Hope episodiese avonture ontvou terwyl hulle van eiland tot eiland reis en voor ’n verskeidenheid vreemde kreature en gevaarlike situasies te staan kom.

Die twee kinderakteurs wat hul rolle hervat, Henley en Keynes, is die beste van die oorspronklike vier en Barnes is steeds iets vir die oog. Poulter is uitstekend as die eiewys Eustace wat nederigheid moet leer, en Aslan die leeu en Reepicheep die dapper muis word danksy rekenaareffekte oortuigend uitgebeeld.

Die Christelike ondertone is dalk te opvallend na party se smaak, maar ouers kan gerus wees dat dit geskikte vermaak vir kinders is.