Animasie.

2010. 96 min.

Stemme: Mandy Moore, Zachary Levi en Donna Murphy.

Regie: Nathan Greno, Byron Howard.

O.

Ons dink: 5/5

Na meer as ’n dekade van gemiddelde flieks kraai Disney weer koning met ’n vars, snaakse vertolking van die sprokie Raponsie.

’n Prinses word steeds deur ’n bose heks in ’n toring opgesluit, maar Rapunzel (Moore) se hare het nou helende towerkragte en kan haar ontvoerder, Mother Gothel (Murphy), vir ewig jonk hou.

Soos enige goeie Disney-heldin droom sy van avontuur. Dan ontmoet sy die aantreklike dief Flynn Rider (Levi).

Hy stem in om haar te help as sy vir hom sal sê waar sy die kroon weggesteek het wat hy gesteel het.

Spitsvondige dialoog, opwindende aksietonele en teer romanse volg.

Die rekenaaranimasie is ’n lus vir die oog en die liedjies kon net sowel van Broadway gekom het.

Die twee hoofkarakters kruip in jou hart en die dieremaats, ’n Yoda-agtige verkleurmannetjie en ’n perd wat dink hy’s ’n bloedhond, is van die oulikste sedert The Little Mermaid. Daarby is die boef skrikwekkend boos.

Bonus: kortprente.