Wetenskapsfiksie-gruwel.

Met Adrien Brody, Sarah Polley en Delphine Chenéac.

Regie: Vincenzo Natali.

2009.

103 min.

16GSNT.

Ons dink: 3/5

TWEE genetiese wetenskaplikes by ’n farmaseutiese onderneming, Clive (Brody) en Elsa (Polley), doen proefnemings om die DNS van verskillende diere te kombineer.

Hulle wil die hibriedgediertes se proteïen dan vir mediese gebruik oes. Hulle stel voor dat menslike DNS in hul eksperimente gebruik word, maar hul base weier.

Daarom doen die twee dit stil-stil en skep ’n mens-dier-hibried.

Die vroulike skepsel, wat hulle Dren noem, groei liggaamlik en verstandelik teen ’n versnelde pas. En kort voor lank sit Clive en Elsa met ’n sexy jong “vrou” (Chenéac) opgeskeep.

Maar sy het ’n dodelike angel in haar stert en ’n wispelturige geaardheid. En sy kan dalk van geslag verander . . . Het hulle ’n onbeheerbare monster geskep?

Splice sal dalk nie in almal se smaak val nie, maar as jy belangstel in genetiese manipulasie en die vrae wat oor proefnemings met DNS-splitsing ontstaan – dit word nou wêreldwyd in laboratoriums uitgevoer – is hierdie goed vervaardigde fliek beslis die kyk werd.

Bonus: kortflieks.