Dokumentêr.

Met Ayrton Senna, Alain Prost en ander.

Regie: Asif Kapadia.

2010. 103 min.

O.

Ons dink: 4/5

Hierdie dokumentêr oor die kort lewe van die Brasiliaanse F1-renjaer Ayrton Senna laat jou so te sê agter die stuurwiel inskuif terwyl hy teen meer as 300 km/h op van die vinnigste renbane ter wêreld jaag.

Die rensegmente – meestal TV-grepe en beeldmateriaal van mini-kameras wat aan die motors vas is – dek sy 10 jaar lange loopbaan en roep verskeie ernstige ongelukke weer in herinnering.

Dit begin in 1984 met sy asemrowende verskyning op die wêreldresiestoneel in Monaco waar hy van laaste tot tweede vorder.

Vier jaar later wen hy in die Japannese Grand Prix sy eerste wêreldkampioenskapstitel en later palm hy nog twee titels in.

Maar dan sterf hy in 1994 in ’n ongeluk tydens die grand prix in San Marino in Italië.

Senna se tydgenote beskou hom as die instinktiefste en talentvolste renjaer in die geskiedenis van hierdie sport en hy is vandag ’n nasionale held in Brasilië.

’n Moet vir adrenalienslawe.

Bonus: kommentaar, kortfliek.

Volg Huisgenoot op Twitter.