Ons dink: 4/5

2012

93 min

OG

Animasie-fantasie

Dié lewendige, verbeeldingryke avontuur van Dream-Works is al tereg beskryf as The Avengers vir kinders. Dit gaan oor wyd uiteenlopende helde met supermagte wat moet saamwerk om die wêreld te red van die skurk wat dit wil vernietig.

Die wintergees, Jack Frost (met Chris Pine se stem), kry geheueverlies. Terwyl hy begin uitpluis watter magte hy het, werf die Guardians hom. Dié is ’n groep wesens uit die kindermitologie – soos Kersvader (Alec Baldwin met ’n joviale Russiese aksent), die tandefee (Isla Fisher), die Paashaas (Hugh Jackman) en die stil Sandman. Jack moet hulle help baklei teen die bose kinderverskrikker Pitch (Jude Law). Maar sy dringende behoefte om uit te vind waar hy vandaan kom, kom in die pad.

Die fliek kyk nuut na ou karakters, en hoewel Suid-Afrikaanse kykers dalk minder aanklank sal vind by Jack Frost en dietandefee, sal die skaterlag-oomblikke, meesleurende aksie en pragtige animasie die hele gesin betower.

– SANDRA VISSER