Ware lewensdrama. Met Johnny Depp, Christian Bale en Marion Cotillard. Regisseur: Michael Mann. 2009. 133 min. 16G.

’n Rampokkerfliek met Depp in die hoofrol en Bale as die polisieman wat hom probeer vasstrek – dit moet tog goed wees, of hoe? Maar miskien is dit juis oor die hoë verwagtings dat hierdie fliek uiteindelik teleurstel.

Depp is oortuigend as die charismatiese bankrower John Dillinger wat in die depressiejare van die vorige eeu amok gesaai het, maar sy spel is allermins die soort kragtoer wat hy al gelewer het. En min van die ander karakters het genoeg vleis om die lyf. Die stel, dekor en kostuums voer jou terug na die dertigerjare, maar dit is jammer die storie bly oppervlakkig. Die skop-skiet-en-dinges-tonele voel meer soos ’n videospeletjie as ’n bloedige ware lewensdrama waarin tientalle mense destyds gesterf het.

Dit is taamlik spannend om te wonder wanneer en hoe die anti-held aangekeer gaan word, maar die liefdesverhaal tussen John en Billie Frechette (Cotillard) is te vlietend om die hartsnare te roer.  Dit is tegnies uitstekend, maar nie ’n fliek wat jy so lank sal onthou soos The Untouchables, die Godfather-reeks of Scarface nie. Bonus: Kommentaar.