Komediedrama.

Met Rachel McAdams, Harrison Ford en Diane Keaton.

Regie: Roger Michell.

2010.

104 min. 13OT.

Ons dink: 3/5

DIE TV-vervaardiger Becky Fuller (McAdams) is so desperaat vir werk dat sy inwillig om DayBreak, ’n wankelende New Yorkse ontbytprogram, oor te neem.

Die eerste dag steek sy die nuttelose ankerman in die pad en moet daarna vir die staatmaker-ankervrou, die vurige Colleen Peck (Keaton), ’n nuwe maat soek.

Sy oorreed die knorrige veteraan-TV-joernalis Mike Pomeroy (Ford) om die pos te aanvaar. Maar hy weier om die “sagte” stories te doen wat die netwerkbase wil hê en stry op die lug met Colleen.

Kan Becky die program red, Mike laat saamspeel en steeds tyd vir haar nuwe kêrel inruim?

Agter hierdie oppervlakkige komedie sit ’n ernstige vraag: Is daar plek vir ernstige joernalistiek in ’n wêreld van versuikerde TV-vermaak?

Al bied hierdie vermaaklike fliek geen antwoorde nie, slaag Ford daarin om jou in sy karakter se integriteit te laat glo. Keaton is spitsvondig, maar dis die aanvallige McAdams wat jou aan die kyk hou.

Bonus: kommentaar, uitgesnyde tonele.