Animasiekomedie.

Stemme: Will Ferrell, Brad Pitt, Tina Fey, Jonah Hill en David Cross.

Regie: Tom McGrath.

2010. 91 min.

OG.

Ons dink: 3/5

IN HIERDIE animasiekinkel op die Superman-fabel land twee babas van ’n afgeleë planeet op Aarde en word bitter teenstanders.

As volwassenes word die superslim Megamind (metFerrell se stem) ’n voorstander van alles wat boos is, terwyl Metro Man (Pitt) ’n superheld word wat misdaad bestry.

Hul wedywering duur voort met Megamind wat gereeld die beeldskone TV-nuusverslaggewer Roxanne (Fey) ontvoer en Metro Man wat haar red.

Dan verslaan Megamind Metro Man en gee Roxanne se liggelowige kameraman Hal (Hill), wat heimlik op haar verlief is, superkragte. Hy verander hom in ’n held genaamd Titan.

Maar toe sy steeds nie in hom belangstel nie, raak Titan ook boos, terwyl Megamind, wat nou sy mededinger, Metro Man, mis, sy goeie sy ontdek.

Die vermaaklike eskapade is pragtig geanimeer en die karakters se voorkoms heel oorspronklik.

Daar is oorgenoeg snaaksighede waarvoor veral Megamind se handlanger, Minion (Cross), ’n vis in ’n bak met ’n robotlyf, sorg en die stemme is uitstekend. Dis springmieliepret vir almal.

Bonus: kommentaar, kortflieks, uitgesnyde tonele.