Komedie-drama.

Met Jake Gyllenhaal en Anne Hathaway.

Regie: Edward Zwick.

2010. 108 min.

16TSN.

Ons dink: 4/5

JAKE GYLLENHAAL en Anne Hathaway maak ’n bekoorlik disfunksionele paartjie uit in hierdie romantiese drama wat in die 1990’s afspeel.

Jamie Randall is ’n verteenwoordiger vir ’n farmaseutiese onderneming wat elke dag lustig flankeer terwyl hy antidepressante en later ook Viagra aan dokters afsmeer.

Maggie is ’n kunstenaar met ’n vrye gees by wie Parkinson-siekte op ’n vroeë ouderdom gediagnoseer is.

Hul verhouding begin as ’n middag van passie, ontwikkel tot ’n romanse, en al skop Maggie daarteen, word dit ’n ernstige verhouding.

Die regisseur Edward Zwick, beter bekend vir epiese rolprente soos The Last Samurai, Glory en Blood Diamond, sorg hier vir ’n fliek oor ’n paartjie met ’n verfrissend volwasse benadering tot verhoudings, liefde en seks (waarvan senstiewe kykers moet weet, daar baie is).

Die fliek kry ook ’n steek in na die ietwat gewetenlose sakepraktyk van groot medisynemaatskappye, maar daardie element is minder geslaag as die roerende verhaal van Jamie en Maggie se verhouding.