Gruwel-drama.

2010. 111 min.

Met Kodi Smit-McPhee, Chloë Grace Moretz en Richard Jenkins.

Regisseur: Matt Reeves.

18TG.

Ons dink: 4/5

As jy versot is op die Twilight-reeks se suikersoet romanse en glimmende lywe, sal jy dalk sukkel om jou tande in hierdie sonderlinge vampierfliek te slaan.

Dis die Amerikaanse weergawe van die Sweedse rolprent Låt den Rätte Komma In (Laat die Regte Een Inkom) en vertel die verhaal van ’n 12-jarige seun, Owen (Smit-McPhee), se vriendskap met ’n vampiermeisie, Abby (Morentz).

Owen word erg op skool geboelie en sukkel om in die sleurstroom van adolessensie kop bo water te hou.

Dan daag Abby op en leer hom van die liefde en hoe om terug te veg.

Owen én die polisie kry snuf in die neus toe die een ná die ander grieselrige moord op die Amerikaanse dorpie Los Alamos gepleeg word. ’n Onthutsende verhaal ontvou wat terselfdertyd ontroer.

Let Me In het nie die subtiele aanslag van die Sweedse prent nie, maar is beslis die kyk werd – mits jy jou aan ’n gruwelverhaal met siel en intelligensie kan oorgee.

Volg Huisgenoot op Twitter.