Animasie-fantasie.

2011. 87 min.

Stemme: Jack Black, Angelina Jolie en Gary Oldman.

Regie: Jennifer Yuh.

OG.

Ons dink: 4/5

Hierdie pragtige animasiefliek is een van die seldsame opvolgprente wat beter as die oorspronklike is, want die storie is ingewikkelder, die booswig nog boser en die aksietonele indrukwekkender.

Die verhaal draai om daardie tergende vraag wat nie in die eerste fliek beantwoord is nie: Hoekom is Po die pandabeer (stemwerk deur Black) se pa ’n gans?

Po is deur die Furious Five-koeng foe-kampioene as Dragon Warrior aanvaar, maar iets ontbreek nog in sy lewe en hy wil weet waar hy vandaan kom. Intussen is die bose pou (Oldman) oorgehaal om met sy nuwe uitvindsel, buskruit, die hele China tot slawe te maak en net Po en sy vriende kan hom keer.

Die blik op die Chinese kultuur en geskiedenis laat die fliek uitstaan en die regisseur, Jennifer Yuh, span verskeie asemrowende animasiestyle in om dit in ’n kunswerk te omskep.

’n Boeiende avontuur wat uitstyg bo die res.

Bonus: onder meer kortflieks en uitgesnyde tonele.

Volg Huisgenoot op Twitter.