Komedie.

Met Johnny Knoxville, Barn Margera en Ryan Dunn.

Regie: Jeff Tremaine.

2010. 94 min.

18TNG.

Ons dink: 3/5

As jy ’n aanhanger van Jackass is, sal jy mal wees oor die derde aflewering in hierdie reeks.

As jy nie weet waaroor dit gaan nie – dit is soos ’n uitgerekte TV-werklikheidsprogram met ’n klomp goed betaalde vrywilligers wat waagtoertjies uitvoer. Alles behels pyn, verleentheid, kru liggaamsfunksies – en louter onnoselheid.

Hierdie keer is Johnny Knoxville en sy trawante se kaperjolle net so vergesog en vermaaklik soos voorheen, en party is selfs beter.

Aanhangers sal ook die opvolgwaagtoertjies uit vorige flieks geniet, al is party in sulke swak smaak dat hulle platval omdat jy nie daarvoor kan lag nie.

Die vraag wat aan jou bly knaag terwyl jy daarna kyk, is natuurlik: Hoekom? Hoekom sal jy in die pad van ’n stormende buffel gaan staan? Of swaaibal met ’n byekorf speel? Of toelaat dat ’n reuse hand jou voete onder jou uitklap?

Die antwoord in ’n neutedop is: Dis meestal skreeusnaakse, growwe humor en pret.

Bonus: regisseur se weergawe, kortflieks, uitgesnyde tonele.